Matteus 5: 9; Jakobus 3: 13-18
Wanneer ons die televisie aanskakel of die koerant oopslaan, kan ’n mens nie anders nie as om op te merk hoeveel onenigheid, konflik en haat daar tussen mense is. Dit lyk soms asof mense net eenvoudig nie in vrede met mekaar kan saamleef nie. Daarom, as ons sê dat ons in ’n tyd leef waarin daar ’n byna onuitspreeklike behoefte aan vrede is, hoef dit eintlik nie eens betoog te word nie. Waarom is daar nie vrede tussen mense nie? Dikwels omdat mense voel dat hulle verontreg is, dat hulle op ’n onverdiende wyse benadeel is. Wanneer ons benadeel voel, is ons reaksie veg of vlug. Die meeste van ons kies die veg-opsie. Jakobus dink nie dat só ’n reaksie ware wysheid openbaar nie.
Jakobus vertel vir ons hoe ’n ware vredemaker behoort te lyk. Eerstens moet vredemakers se dade by hul woorde uitkom. Goeie gedrag wat daarop dui dat ons wil dien (nederigheid) en nie gedien wil word nie, getuig van ware wysheid (Jak 3: 13). ’n Tweede vereiste vir ’n vredemaker is dat naywer en selfsug, ’n wedywerende houding teenoor ander, nie in jou hart moet wees nie (Jak 3: 14). Dit het wanorde en gemene dade teenoor mekaar tot gevolg. ’n Derde vereiste is dat ons verhoudings met ander mense sonder bybedoelings moet wees. Ons behoort vredeliewend en inskiklik teenoor mekaar te wees, bereid om soms kompromieë aan te gaan. Daarmee vra Jakobus ook vir bedagsaamheid, medelye en onpartydigheid. Hierdie maniere van doen herstel ons verhouding met God en bewerk vrede tussen mense.
Waar moet ons vredemakers wees? Oral waar ons in onvrede met ander leef. In die huwelik, waar dit soms gebeur dat ons mekaar bitter seermaak. Of as kollegas. Dalk doen ons mekaar in by die werk. Ons neem ander dalk nie in ag nie. Ons steek mekaar in die rug. Of as vriende, waar ons dikwels probeer om onvrede op te los deur mekaar terug seer te maak. Gelukkig is die vredemakers, want hulle weerspieël die liefde van God.
Dr Sanrie de Beer, Philadelphia