Lukas 5: 1-2

Die gedeelte begin met Op ’n dag, wat ons voorberei op iets nuut wat gaan begin. Dit kan die begin wees van iets belangrik. God laat Hom aan niemand onbetuig nie. Hulle beur vorentoe om die woord van God by Jesus te hoor. Kan ons iets anders van die waarheid verwag as dat dit mense moet aantrek? Dit moet mos so wees dat dit die leerling is wat behoefte aan die leraar het, dat dit die sieke is wat die dokter nodig het. En nie omgekeerd nie, soos dit in die Christendom gehoor kan word, dat dit die dokter is wat die pasiënte nodig het en die leraar wat die leerlinge nodig sou hê. Die geloof verstaan die nood van die wêreld as reikhalsende verlange, en daarom beur die mense vorentoe om die woord van God te hoor. Die verlange is basies. Mense vra na geluk en vrede, en so vra hulle by hulself verby na God.

Onder die mense wat Jesus by die Genesaretmeer aantref, tel ’n klompie vissers. Die vissers het uitgeklim en was besig om die nette uit te spoel. Daar is niks daarmee verkeerd as vissers hul nette uitspoel nie. Dit is hul daaglikse werk. Maar wanneer dit al is, dat die lewe tot op die einde uit niks anders bestaan nie – dit is nie goed nie, dit dui op ’n vloek. En vloek beteken om ver van God af te wees, dat die uitsig op God nie meer bestaan nie. Die mens bestaan alleen met sy doen en late. Die man as slaaf van sy beroep, die vrou as slavin van haar man en kinders, die vrou wat deesdae bevryding daarin soek om ook deur haar loopbaan verslaaf te word.

Jesus het na sulke gewone mense toe gekom. Wanneer mense in hierdie wêreld deur God aan sy wêreld bekend gestel word, ervaar hulle reeds in hierdie aardse lewe die seën van die komende God.

Heer, ek smag na U wat lewe,

soos ’n dier na water smag.

(Psalm 42: 1)

Dr Piet Boshoff, Emeritus

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link