Hosea 11: 1-11 (AFR2020)

Hosea is lief om metafore en vergelykings te gebruik as hy oor die verhouding tussen God en Israel praat. Hy beeld God uit as ’n vergewende eggenoot; ’n liefdevolle ouer; ’n helende geneesheer; ’n leeu, luiperd en beerwyfie; en as vars dou. Die volk beeld hy uit as ’n ontroue vrou; ’n weerbarstige koei; ’n smeulende oond: ’n gebrande roosterkoek; ’n nuttelose gereedskapstuk; ’n eensame wildedonkie.

Hosea kry opdrag om ’n prostituut as vrou te neem. Dit is ’n profetiese handeling wat die verhouding tussen God en Israel uitbeeld. Die profeet se huwelik en die name van sy kinders moet vir die volk dien as waarskuwing dat hulle op die verkeerde pad is en dat God hulle van Hom gaan afsny as hulle aanhou afgode dien.

Tog is Hosea nie ’n doemprofeet nie. Ons lees die unieke, ontroerende uitbeelding van God se innige liefde in vers 8: Hoe kan Ek jou prysgee, Efraim? Hoe kan Ek jou oorlewer, Israel? My hart is diep ontroer in My, die deernis brand in My.

Mense sukkel soms om lyding en swaarkry in die lewe te verstaan. Is dit God se straf vir iets wat ons of ons voorouers gedoen het? Hier by Hosea leer ons dat God nie gereed staan om te straf nie, maar om te red. Hy wil ons na Hom toe draai en vir ons skuiling bied, want Hy is God, nie ’n mens nie. Hy praat in hierdie gedeelte vanuit sy liefde – dieselfde liefde wat na vore kom in die geboorte van Jesus, sodat Matteus (Matt 2: 15) hierdie teks uit Hosea 11: 1 aanhaal: Ek het my seun uit Egipte geroep. Dit is die liefde wat uitgestort word aan die kruis op Golgota, en wat hoop bring vir die wêreld.

Mag hierdie boodskap van Hosea elkeen bring by ’n ontmoeting met God in sy liefde en deernis, sodat ons na God toe draai vir redding en heil. Want om sy kinders te beskerm, sal Hy brul soos ’n leeu, en as hulle naderkom, sal Hy vir hulle woonplek gee.

So spreek die Here.

Dr Piet van Staden, Stellenbosch/Worcester

af
af
Deel met behulp van
Copy link