Psalm 130

Die eerste waarheid oor wag is dat ons nie hou van wag nie. Ons samelewing en denke word gekenmerk deur onmiddellike behoeftebevrediging. Ons kry e-posse wat dadelik die boodskap by ons uitbring. Brief-skryf word slakpos genoem omdat my brief jou eers dae, selfs weke later, bereik. Iemand beskryf ons huidige samelewing as ’n want it now society. Ons het geleer dat dit swak diens is as iemand jou laat wag. Die persoon wat die vinnigste kan deliver, is die wenner. Gou is in, wag is uit.

Psalm 130 skryf dat ons op die Here moet wag. Dit val vreemd op die oor. Met alle respek gesê, het die Here nie die mag om vinniger as enige iemand anders te kan deliver nie? Hierdie wag op die Here is vir ons moeilik, want ons wil sommer gou sake in ons eie hande neem. Ons wil ons eie skemas en tydsbeplanning volg.

Wat ons moet hoor, is dat hierdie wag op die Here, wag op die Here is. Dis nie wag op iemand wat dalk nie gaan opdaag of nie heeltemal betroubaar is nie. Jy wag soms vir iemand wat vir jou ’n kwotasie of verslag vandag moet bring of iets in jou huis moet regmaak. Hy of sy daag dan net glad nie op nie of voldoen nie aan verwagtinge nie. Ons moet onthou dat die Woord ons vra om op die Here te wag. Hy sal opdaag.

Wat beteken wag op die Here? Dit gaan oor ’n gebedshouding of lewenshouding waar ons alles elke dag opnuut in die Here se hande oorgee. In die nuwe Afrikaanse vertaling (2020) word wag op die Here dikwels vertaal met vertrou op die Here. Wag op die Here gaan dus oor oorgawe aan en vertroue in die Here. Ons gesukkel om op die Here te wag, ons ongeduld, is dikwels ’n simptoom van ons gebrek aan oorgawe aan die Here. Dit wys ons gebrek aan ware vertroue op Hom. Die Here is by ons en met ons. Wag en vertrou – die Here is.

 

Dr Sanrie de Beer, Philadelphia

Share via
Copy link
Powered by Social Snap