Numeri 13: 26-33 (Deel 1 van 2)

Bobby van Jaarsveld sing in ’n liedjie: Spieëltjie, spieëltjie, sê vir my, hoe sien die ander mense my? Sien hulle ook die beeld wat ek in die oggend kry? Hoe sien jy jouself en die wêreld om jou? Wat sien die wêreld as hulle na jou kyk? Ons prentjies van onsself en die wêreld bepaal grootliks hoe en of ons optree.

Die verkenners van wie ons in Numeri 13 en 14 lees, het ook ’n bepaalde beeld van hulself gehad. In tien van die verkenners se eie oë was hulle soos sprinkane. Hulle het reuse gesien as hulle na die Kanaäniete gekyk het. Natuurlik sal sprinkane bang wees vir reuse. Hulle sal vertrap word onder die reuse se voete. As dit is hoe jy jouself sien, sal jy ook soos hierdie tien verkenners eerder vlug as om die Kanaäniete die stryd aan te sê.

Twee van die twaalf het gesê hulle kan die land beslis inneem, want die Here is by hulle. Josua en Kaleb wou die Kanaäniete die stryd aansê. As ons verder lees, sien ons dat die Here Israel verkwalik vir hul kleingeloof. Israel sou uiteindelik nog 38 jaar in die woestyn rondswerf as gevolg van hul kleingeloof wat tot vrees gelei het.

Watter bril het jy op? Kyk jy met geloof op na God in plaas van om pateties klein en swak te voel? Hoe jy God sien, gaan ook bepaal hoe jy vir jouself lyk. Natuurlik lyk die wêreld soms oorweldigend. Moenie net voor jou en om jou kyk nie. Kyk op en vertrou God, want dan gaan jy ’n ander beeld in die spieël sien.

In die fliek The Lion King is Simba verskrik en bang. Hy vlug weg, totdat hy in die water kyk en in die spieëlbeeld sy pa raaksien. Toe besef hy dat hy die koning se kind is en uiteindelik koning sou word.

Deur Jesus Christus is ons die Koning van alle konings se kinders. Leer jou kinders om met geloofsoë te kyk.

Ds Louw van der Linde, Evander

Share via
Copy link
Powered by Social Snap