Genesis 1: 1-31

Die Koning van die heelal skep. Die Skepper spreek en die heelal kom tot stand. Daarom weet ons dat die Skepper ons Koning is. Dit is nie net goed genoeg dat die Here skep nie. Hy skep alles goed. As ons kyk na verse 4, 10, 12, 18, 21, 25 en 31, sien ons dat die Here telkens terugkyk oor dit wat geskep is en dat dit beoordeel word. Die Here beoordeel sy skeppingswerk en sê dat dit goed is.

Ons weet hieruit dat alles in die skepping goed geskape is. Wanneer die Here die mens skep, gaan Hy ’n tree verder. Die mens word nie net goed geskep nie. Die mens word beter as alles anders geskep. Die mens word volgens verse 26 en 27 as verteenwoordiger van God en na die beeld van God geskep.

Hoe asemrowend is dit nie om te dink dat u en ek na die beeld van God geskep is! Ons is God se verteenwoordigers op hierdie aarde. Ons Skepper het ’n besondere verhouding met ons. God het van die eerste oomblikke af meer moeite met die mens gedoen, meer aan ons gegee as aan die res van die skepping. Die mens staan in ’n spesiale verhouding tot God.

In die Koninkrykstyd behoort ons aandag te gee aan ons verhouding met ons Koning en Skepper. Ons moet weet dat ons sy verteenwoordigers op die aarde is totdat Hy weer kom. Dit beteken ons het die verantwoordelikheid om so te leef dat ander mense ook ’n verhouding met hul Skepper sal wil beleef.

Gebed

Here, dankie dat ek as ’n eenvoudige mens na u glansryke beeld geskep is. Dankie dat ek u verteenwoordiger op aarde mag wees. Here, gee my u liefde sodat ek u goeie verteenwoordiger mag wees. Amen.

Ds Michael Müller, Klerksdorp-Wilkoppies

af
af
Deel met behulp van
Copy link