1 Johannes 3: 11-17
Jesus is die ideale voorbeeld van liefde vir God en vir ons naastes. Hy het die wêreld so liefgehad dat Hy Homself geoffer het vir die mensdom. Vir sy dissipels, sy familie, vriende, vyande en selfs miljoene ander wat nie eens van Hom geweet het nie.
Johannes wys egter op ’n teenoorstaande voorbeeld. ’n Voorbeeld van liefdeloosheid. Van sonde. Want die sonde staan teenoor die beoefening van liefde. Die perfekte voorbeeld van sonde is waar Kain die groot liefdesgebod verbreek. Waar hy iemand wat na aan hom was, sy eie broer, doodgemaak het omdat hy jaloers was op hom. Ongelowiges wat vyandig teenoor God staan, leef soos Kain met haat in hul harte omdat hulle eerder lojaal is aan die bose, as aan God. Johannes sê hiermee dat haat teenoor iemand niks anders is nie as moord wat in die denke gepleeg word. Wanneer ons gefrustreerd is oor of kwaad is vir iemand, dan sê ons maklik spreekwoordelik dat ons daardie persoon wil vermoor. Dit is dalk maar ’n manier om ons frustrasie met iemand anders te deel, maar ons moet versigtig wees. Die spreekwoord sê nie verniet nie: dit wat die hart van vol is, loop die mond van oor. Kain se haat het oorgegaan in dade wat hy nie kon terugdraai toe hy klaar die moord gepleeg het nie.
Ons moet daarom versigtig wees vir haat. Haat wys dat iemand nog nie die ewige lewe in hom of haar het nie. So ’n persoon lewe nog nie in ’n intieme verhouding met God nie. Mense wat in ’n intieme verhouding met God leef, sal so vol wees van God se liefde dat hulle nie sal kan dink aan haat teenoor God of ander nie. Haat neem lewe, soos Kain gedoen het. Maar liefde gee lewe en is ook bereid om self ’n lewe te gee, soos Jesus Christus. Jesus se offer is die hoogste modelvoorbeeld van naasteliefde. God se liefde het ’n daad geword. Daardeur het ons God se kinders geword. So moet ’n kind van God se liefde ook sigbaar word.
Ds Waldo Pretorius, Beroepafwagtend
