Daniël 1: 1-16

Die boek Daniël vertel die verhaal van vier vriende wat na koning Nebukadnesar se paleis weggevoer is. Hulle sou daar maklik kon meedoen aan die gebruike en gewoontes soos deur die koning voorgeskryf, maar hierdie manne kies om getrou te bly aan hul eie godsdienstige voedselvoorskrifte. Hulle het nie toegelaat dat hul geloof en gebruike skade ly bloot omdat hulle nie meer tussen hul eie mense was nie.

Dit is die verhaal van iemand wat die pad met God gestap het, omdat God eerstens die pad met hom, Daniël, gestap het. Vir die volk in ballingskap was dit ’n verhaal vol hoop dat God met hulle was. Wat die verhaal van Daniël so merkwaardig maak, is dat Daniël en sy vriende gekies het om lojaal aan God te bly, en om getrou te wees in die onderhouding van sy wet.

Hulle het ook beleef hoe God hulle bewaar het te midde van al hul beproewinge. In die vuuroond en die leeukuil was God telkens in beheer. Omdat God in beheer is, kan ons maar, soos Daniël en sy vriende, op Hom vertrou. Ons word ook soms deur die lewe ontnugter. Ons is dikwels aan die beweeg tussen die bekende en onbekende. ’n Eiesoortige ballingskap!

Binne al hierdie veranderlikes wat deel van ons lewens word, bly God die een konstante, en daarmee saam ons hoop op Hom. Daaraan hou ons vas, soos Daniël-hulle, omdat dit ewigheidswaarde het te midde van ’n golf van verbygaande dinge. God is getrou, daarom kan ons ook getrou aan Hom bly, want Hy bly altyd in beheer.

Wanneer ons getrou is in die kleiner dinge van die lewe, sal ons leer om getrou te wees in die groter dinge ook. Daar waar niemand kyk nie, is die toets juis om getrou te bly in die geloof. Geloof is iets wat soms risiko verg. Daniël was uitermate dapper toe hy daarop aangedring het om sy godsdienstige gebruike te bly navolg. Want wanneer dit by God kom, gaan dit om getrouheid eerder as aanpasbaarheid.

Ds Quinten Schimper, Krugersdorp/Krugersdorp-Wes

Share via
Copy link
Powered by Social Snap