Deuteronomium 1: 19-33

Die uitdagings wat ons daagliks in die oë staar, kan nogal oorweldigend wees. Trouens, ek hoor dikwels hoe mense kla dat hulle nie kans sien vir sekere dinge nie. Soms is dit persoonlike dinge soos werk en omstandighede rondom hul huisgesin. Ander kere het dit te doen met die toestande in ons land of selfs wyer in die wêreld. Met die volk van die Here was dit nie anders nie. Hulle het interne vrese gehad. Hulle was al immers vir baie jare aan die trek en het nog nie hul bestemming bereik nie. Die Here moes hulle herinner aan die beloftes wat Hy aan hulle gemaak het. Hulle was voorts so benoud oor die indrukwekkende vyande wat vir hulle gewag het in die land Kanaän, dat hulle viervoet vasgeskop het en geweier het om verder te trek. Die verspieders het teen daardie tyd reeds verslag gegee oor die reuse wat daar gewoon het.

Die Here herinner hulle daaraan dat Hy hulle deur die vreemdste en mees uitdagende omstandighede, tot by die voordeur van Kanaän gebring het. Hy gebruik twee beelde om sy deurlopende leiding te illustreer. Die eerste is die kragtige beeld van ’n dapper soldaat wat namens hulle geveg het. Die tweede is die sagte beeld van ’n pa wat ’n seun in sy arms dra. Op vele ander plekke, soos in Psalm 131, waar God se arms met ’n moeder s’n vergelyk word, word iets uitgebeeld van die geborgenheid wat in God se arms te vind is.

Hoe oorweldigend ons uitdagings ook al mag wees, hoe benouend ons omstandighede ook al word, God se arms bied kalmte en vrede, soos net in ouerarms te vind is. Die gevaar het dalk nie gewyk nie en dit wat spanning veroorsaak verdwyn nie sommer nie, maar in die Here se arms lyk die uitdagings net sagter. Soos ’n ouer se arms, is God s’n ook oop in die vorm van ’n uitnodiging.

Ds David Barnard, Magaliesmoot

af
af
Deel met behulp van
Copy link