Efesiërs 2: 14-18

Gelowig of nie-gelowig – dit is die eintlike vraag… Die algemene opvatting is dat wanneer mense uiteindelik “bekeer” is en getuig dat God God is, hulle deel word van die eksklusiewe klub waar jy toegang het tot die Vader, deur Jesus Christus. Tot die dag dat jy deel geword het van daardie klub, is jy afgesny. Dit is egter ’n wanpersepsie.

Dit voel soos iets wat moeilik is om te verstaan. Ons het tog die opdrag om Christus te verkondig sodat almal deur die Gees tot geloof in Jesus Christus kan kom. Dit is waar, dit is ons opdrag, maar ons opdrag is nie om mense te maak glo nie. Ons opdrag is om te verkondig. Die Gees van God, deur die werk van ons Here Jesus Christus, is by elke mens. Elkeen het hierdie geskenk ontvang, gelowig of nie-gelowig, daar is immers niks wat ons kan doen om dit te verdien nie.

Wat wel gebeur wanneer ons verkondig, is dat mense bewus kan word van die Gees wat reeds by hulle is, en dit is dan die Gees wat mense tot geloof bring, nie ons nie. Christus se dade het toegelaat dat elkeen toegang het tot die Gees en die Vader; al wat ons hoef te doen, is glo.

Daarom kan ons nie dink dat dit ons is wat mense tot geloof bring nie. Geloof is by ons almal. Dit is die Gees wat binne elkeen wag vir die vonk wat elke mens se hart sal help vlam vat en brand met liefde vir God. Ons werk is dan eenvoudig om ons vuurtjie van geloof so helder te laat brand dat die vonke spat na ander, en dat hulle die Gees toelaat om hulle te omhels.

Ds Yvette Scholtz, Magaliesmoot

Share via
Copy link
Powered by Social Snap