Markus 1: 1-15

Die Evangelie van Markus is aan die gemeente in Rome gerig en is tussen 64 nC en 70 nC geskryf, dit wil sê, net na die vlaag van vervolging teen die Christene deur keiser Nero en voor die vernietiging van die tempel in Jerusalem. Nero was verantwoordelik vir die geweldige brand in Rome en het die skuld op die Christene gepak. Dit het argwaan jeens die Christene ontlok. Die gemeente het in die aangesig van die dood geleef. Om ’n volgeling van Jesus te wees, het beteken dat jy sou sterf. Markus maak sy hoorders op ’n meesterlike wyse toeskouers van Jesus se pad na die kruis. Deur van Jesus se lyding te vertel, gee hy hulle op hul eie lyding perspektief – hanteer onreg en lyding met die gesindheid van Jesus.

Markus maak met sy inleiding (vers 1) tot die Evangelie ’n kragtige “politieke” uitspraak. Teenoor keisers soos Julius Caesar en Augustus wat tot seun van god in die Romeinse Ryk verklaar is, kom Markus met ’n kragtige dekreet, byna soos wat ’n koning of keiser dit in daardie tyd sou uitvaardig. Dit is Jesus Christus wat die Seun van God is. Christus beteken die Gesalfde. Hy kom God verteenwoordig. Hy doen wat God doen. Hy is God!

Daar is ’n boodskapper, Johannes die Doper, wat Jesus aankondig om te wys dat Hy geloofwaardig is. Markus toon dit aan met twee aanhalings uit die Ou Testament waar albei van ’n pad as metafoor praat om God se verhouding met mense te verduidelik. Dit is ook betekenisvol omdat volgelinge van Jesus in daardie tyd mense van die weg genoem is.

Markus se dekreet oor Jesus Christus, die Seun van God, word later in dieselfde Evangelie geëggo. In Markus 15: 39 staan daar: Toe die offisier, wat reg voor Jesus gestaan het, Hom die laaste asem só sien uitblaas, het hy gesê: “Hierdie man was werklik die Seun van God.” Dit is betekenisvol dat dit ’n onderdaan van die Romeinse Ryk is wat getuig – Jesus is God!

Dr André Ungerer, Hervormde Teologiese Kollege

af
af
Deel met behulp van
Copy link