Psalm 115: 1; Jesaja 48: 11

Met die kragtige woorde van Psalm 115: 1 – Nie aan ons nie, Here, nie aan ons nie, maar aan u Naam kom die eer toe, want dit is U wat liefde en trou bewys… – is menige erediens al geopen. God het een doel voor oë, en dit is God. Die rede waarom God ís, is God. God sê dan ook deur die profeet in Jesaja 48: 11: Ek gee die eer wat My toekom, aan niemand anders nie. Is jy verras oor God se uitspraak hier? Is so ’n gesindheid, as ons mag vra as mense, nie selfgesentreerd nie? Waarom bevoordeel God Homself hier en waarom plaas Hy Homself voorop?

Vir dieselfde rede waarom die stuurman van ’n reddingsboot dit doen. Dink so daaroor: Jy dobber rond met net jou kop bo die water in ’n donker, koue, onstuimige see. Die skip waarop jy enkele oomblikke gelede was, het nou net gesink en onder die water verdwyn. Jou reddingsbaadjie is stadig maar seker besig om af te blaas en jy het geen opsies oor nie. Deur die gitswart nag kom dan die stem van ’n reddingsboot se kaptein. Jy kan hom nie sien nie. Wat wil jy hê moet hierdie kaptein doen? Wat is jou diepste verwagting? Verwag jy van hom om stil te wees? Daar is geen manier dat hy kan stilbly nie. Harder, asseblief. Draai die klankgolwe oop! In Bybelse terme wil jy hê hy moet sy heerlikheid tentoonstel. Jy het nodig om hom te hoor sê: Ek is hier. Ek is sterk. Ek kan jou red!

Wil ons nie hê God moet dieselfde doen nie? Kyk rond. Mense vergaan in die seë van skuld, woede en wanhoop. Die lewe werk nie uit nie. Maar God kan ons red. En slegs een boodskap maak saak: Syne! Ons het nodig om God se heerlikheid te sien. En glo dit maar, God het geen ego-probleem nie. Hy stel nie sy heerlikheid ten toon vir sy eie saak nie, maar vir ons beswil. Om wel die Here se stem in die donker van die onheilspellende nag te hoor, is soos lig in die donker.

Ds Jimmy Manders, Witfontein

af
af
Deel met behulp van
Copy link