Psalm 42
Die kerkvader Augustinus het geskryf: Wat het ’n mens lief as jy sê jy is lief vir God? Dit is nie ’n raaisel of strikvraag nie. Wie is God en waar kry ek Hom? Die skrywer van Psalm 42 antwoord hierdie vraag. Waarna smag ons as ons soos ’n hert smag na water?
Party mense, wanneer hulle aan God dink, dink aan iemand wat hulle uit die moeilikheid sal help. Ek het die versorging wat ek uit die hand van God vind, dit het ek lief. Eintlik is ek lief vir dit wat ek nie vir myself kan doen nie. God is dan die lafenis soos water. Ons smag na uitkoms. Soos die hert wat smag na water, so smag ons na God se lafenis. Wat ek liefhet, is die uitkoms.
Party mense, wanneer hulle aan God dink, dink aan iemand wat hulle teen hul vyande sal beskerm. So, wat ek liefhet, is nie vir God nie, maar die gedagte aan veiligheid.
Ander mense, wanneer hulle aan God dink, dink aan die grootsheid van God. God is die Naam wat ons gee aan die dinge wat ons nie verstaan of kan verduidelik nie. Dit noem ons God.
Augustinus beskryf die wese van God om ons te leer wie is God na wie ons smag. Augustinus beskryf die wese van God as liefde. Dit is wie God is.
Ons brein het geen prentjie van God nie. Augustinus sê om God te verstaan, dink aan liefde. Kan jou brein aan liefde dink? Ons herken liefde wanneer ons dit sien, wanneer ons daarvan hoor, wanneer ons liefde ervaar. Nou sê Augustinus, dit is waaraan ons moet dink as ons aan God dink. Ons verstand kan nie ’n beeld van God vorm nie, maar ons verstand kan ’n beeld van liefde vorm. God se liefde word juis vir ons sigbaar in sy Seun Jesus Christus wat Hy stuur om in ons plek aan die kruis te sterf en vir ons vergifnis te bring. So, wanneer ons in die Lydenstyd aan Jesus dink, ervaar ons hoe die liefde van God lyk. Dan ervaar ons God. Dit is die beeld van God wat ons vorm: God is liefde.
Prof Jaco Beyers, Universiteit van Pretoria / Centurion-Oos
