Openbaring 21-22

Openbaring plaas ons op ’n hoë bergtop, en draai jou gesig in die rigting van God. Vanaf hierdie uitkykpunt kyk ons nie ondertoe of agtertoe nie, maar vorentoe, boontoe. Ons sien die wonderlike nuwe woonplek van God. In plaas van om af te kyk, word jy gevra om van die hoë berg af nog verder op te kyk – hemelwaarts te kyk. Kyk, vandaar kom ’n nuwe stad, ’n stad wat in die hemel beplan is en waarvan God die argitek en bouer is. Daar in die hemel is dit gereinig en gesuiwer van alle euwels, duisternis en boosheid deur die teenwoordigheid van die Lam. Hierdie stad is jou toekoms.

God, wat alles nuut maak, het reeds met sy vernuwing in jou lewe begin. Terwyl jy vooruit kyk na die nuwe Jerusalem, verstaan jy ook God se bedoeling vir die ou Jerusalem waarvan jy tans deel is. Vir die Jode in die Ou Testament was Jerusalem as’t ware die naelstring tussen hemel en aarde. Daar is God se teenwoordigheid beleef. Vanuit God se teenwoordigheid het die lewende water wat die hele skepping voed, gevloei. Waar en hoe beleef jy vandag God se teenwoordigheid? Is dit vanuit die verlede dat jy herinneringe koester oor ’n tyd toe jy rus en vrede ervaar het? Vanuit die verlede verstaan jy en kry jy krag. Jou verlede herinner jou aan jou toekoms, en jou toekoms – wat vas en seker is – is jou geheue vir vandag. Klink deurmekaar… Lees dit weer.

Is dit nie hoe jy geloof verstaan nie? Vanuit die toekoms leef jy vandag. Jy weet wat God vir jou beplan en wat Hy vir jou beloof: voorspoed en nie teenspoed nie, ’n hoop en ’n verwagting. Jou gedagtes moet nie donker bly deur die probleme wat jy nou ervaar nie, maar dit moet verlig wees as gevolg van God se groot genade vir jou. Jou aardse probleme wat jy hier en nou beleef, het hemelse oplossings wat deur God beplan en uitgevoer word. Kyk vorentoe en boontoe en plaas jou aardse bekommernisse en probleme in God se hemelse hand.

Ds Joleen Marx, Beroepafwagtend

Share via
Copy link
Powered by Social Snap