Matteus 7: 24-29

Ons lees in hierdie gedeelte van twee mense, die wyse man en die dwase man. Ons kan hulle so voorstel: Albei is netjies en goed versorg. Jy kan hulle deur ’n ring trek. Maar hul persoonlikhede en gedrag verskil. Die een persoon se hart het verhard, en die ander persoon het ’n hart wat leeg is. Die wyse man is die man wat sy hart en sy lewe wil vul met God se liefde, wat sy geloof versterk en wat hoop het vir die nabye toekoms. Die een wat fokus op ander se behoeftes, die een wat besef God is almagtig. Die dwase man is die mens wat op sy eie behoeftes en eie krag staatmaak. Hy fokus net op homself en leef net vir homself.

In ons Skrifgedeelte lees ons dat hierdie twee mense hul huise op snaakse plekke bou: Die een bou sy huis op rots, en die ander een bou sy huis op sand. Maar dan kom daar ’n vloed en albei huise word aan die krag van die natuur blootgestel. Die wyse man wat sy huis op die rots gebou het, se huis staan vas. Die dwase man se huis word vernietig. Die twee huise was basies dieselfde gebou, maar die fondasies het verskil.

Wat wil hierdie “gelykenis” vir ons sê? Die wyse man se fondasie berus op die woord van God wat stewig en sterk is. Die dwase man se fondasie is hyself en sy lewe vir homself of vir die wêreld. Matteus wil ons aandag daarop vestig dat die lewe vol storms is. Hierdie storms het verskeie vorme, soos siekte, depressie, werkverlies, finansiële druk, hongersnood, woede, aggressie, haat, persoonlike verlies of eensaamheid.

Ons as gelowiges moet ons lewenshuise op God se woord bou. Dan maak dit nie saak watter storms losbars nie, ons huise sal stewig staan, want dit is geanker in die woord van God.

Ds Tiaan Loedolff, Vaalwater

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link