Genesis 40: 1-23
Vriend van God:
Arme Josef, kan ons sê. As jong seun word hy deur sy eie bloedbroers verkoop en beland hy in Egipte en word daar as slaaf gekoop. Spoedig bewys hy hom as uitstaande en word hy deur Potifar oor sy hele huishouding aangestel. Ons weet hoedat hy vals beskuldig word en in die tronk gegooi word. Ook daar as jongman bewys hy hom as betroubaar en verantwoordelik en word hy oor die ander gevangenes aangestel. Opvallend is dat daar telkens vir ons gesê word dat die Here hom geseën het en by Josef was. Hy is nie aan sy eie lot oorgelaat nie. Maar diep in sy hart was daar die hoop om tog vrygelaat te word. Hy vra die skenker: Jy moet my saak vir hom (die farao) stel en sorg dat ek uit hierdie plek uitkom (vers 14). Moet op die mens jou hoop nie bou nie. Die skinker vergeet! Die hoop en verwagting lê aan skerwe. Is dit werklik so?
Twee jaar later gebeur daar iets wat sekerlik die grootste verwagting van Josef oortref het. Sy hoop om vrygelaat te word, word nie net bewaarheid nie, hy word nie net vrygelaat nie, maar word aangestel as tweede in bevel van die hele Egipte.
Vriend van God, hoe lyk my en jou getuigskrif terwyl ons in die aardse tentwoning is? Watter hoop koester ons? Wat is ons verwagting? Hoeveel van dit waarop ons hoop en verwag, lê aan skerwe? Hou ons vol om, ondanks verontregting, onskuldige veroordelings, verwerping en teleurstellings, ander in die seën van die Here te laat deel? Altyd ons beste te gee?
Ons het ’n vaste hemelse hoop en verwagting wat nie in skerwe kan spat nie. Dit dwing ons om in die tyd en omstandighede waarin ons ons mag bevind, altyd ook ander die seën van die Here te laat ervaar. Moeilik? Ja, maar onthou, daar was groter veragting, verwerping, mishandeling, verloëning en verlating as ons s’n. Aan die kruis! God het ons nie aan ons eie lot oorgelaat nie.
Ds Hennie Aucamp (25/02/1949 — 04/10/2024)