Habakuk 3: 17-19

As mense koppel ons juis ons vreugde en blydskap aan besittings, dinge buite ons. Meer geld beteken daardie luukse motor waarna jy so lank al smag, of daardie vakansie in Europa wat jy al jare lank beplan. Dinge buite ons, en ongelukkig ook dikwels buite ons beheer.

Maar juis omdat dit buite ons beheer is, kan dit enige oomblik van ons af weggeneem word. Een natuurramp, ’n inbraak of ’n slegte belegging, en alles is weg. Waar gaan ons dan wees, as ons al hierdie dinge wat ons gelukkig gemaak het verloor het? Maar as ons ons geluk en vreugde in die Here vind, sal ons nooit sonder ’n rede sit om verheug te wees nie. Die Here is immers altyd by ons, en niemand kan die Here van ons wegneem nie. Al sit ons in die diepste, donkerste gat, sit ons nie alleen nie.

Danksy Jesus Christus en sy offer aan die kruis, hoef ons nie meer enigiets te vrees nie. Veral nie die dood nie. Deur Christus is ons verlos van die sonde wat ons geboei het, en deur Christus het ons die ewige lewe ontvang. En die belangrikste, deur Christus is ons verhouding met God herstel.

Hierdie Skrifgedeelte sê dat as jy jou vreugde in die Here vind, kan moeilike omstandighede, slegte besluite of die skadu van die dood nie daardie vreugde steel nie. Dalk moet ons die stuk in kontemporêre Afrikaans vertaal. Al sou my werk nie betaal nie, my huis nie meer myne wees nie, al sou Bitcoin misluk en my beleggings geen wins lewer nie, al sou die winkelrakke leeg staan en die land se krag af wees, nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder. Nie omdat Hy al my ellende wegneem nie, maar omdat Hy by my is, en my met nuwe krag vervul om aan sy hand verder te lewe.

Ds Gustav van Zyl, Phalaborwa

af
af
Deel met behulp van
Copy link