Nehemia 8: 10-13

Nehemia en sy mense was net terug uit ballingskap. Hulle het ’n tempel gebou, ’n plek om God saam te aanbid. Daar was God self teenwoordig, het hulle geglo. Op hierdie dag kom hulle saam vir die groot fees. Hulle was “voltallig” – mans, vroue, kinders, almal. Dit was nie vanselfsprekend in hul kultuur nie. Vroue en ander “minderes”, soos hulle dit in daardie tyd gesien het, kon gewoonlik nie verder kom as die voorhof van die tempel nie. Maar op hierdie feesdag geld mensgemaakte reëls van uitsluiting nie. Hulle was almal saam op die dag wat aan God gewy is.

Daar was stilte. Toe word God geprys en hulle antwoord amen. Esra lees uit die Skrif en die Leviete “preek” – verduidelik wat ’n verhaal van lank gelede nou in hul lewens vir hulle beteken. Toe hulle God se wil hoor, huil hulle. Daar kon verskillende redes wees vir die trane. Dalk was hulle so besig met hul daaglikse oorlewingstryd en die heropbou van hul lewe dat God ’n bietjie vergete gebly het. Dit kon trane van spyt gewees het. Wanneer ’n mens iets kosbaars herontdek, is jy spyt oor al die verkwiste tyd. Hoe kon ek vergeet – iets wat soveel waarde het vir my lewe? Dit kon ook trane van ontroering, verwondering wees. As die gevoel groter is as wat jou liggaam kan vashou, dan vloei die trane. Dalk was hulle ten diepste geraak deur die teenwoordigheid en hul ervaring van iets kosbaars, iets groots. Vervreemde mense voel weer tuis en raak diep bewus van God se groot genade.

Moenie huil nie, sê Esra, moenie treurig wees nie. Hierdie is ’n feesdag. Ons vier dit almal saam. Want die erediens so saam met God en mekaar is ’n fees. Ons loof God vir die skepping. Ons dank God vir die lewe. Ons luister na die woord se riglyne. Daaruit leer ons hoe om goed te lewe met God en mekaar. Dit maak vir ons ’n vol lewe moontlik. Vier die volheid voluit.

Prof Yolanda Dreyer, Universiteit van Pretoria/Nederlandssprekende Gemeente

 

af
af
Copy link