Markus 5: 21-43

In ons menslike nood is ons almal eenders. As ons honger word, knaag die krampe ewe veel. As ons blootgestel word aan vloed of droogte, voel ons ewe weerloos. Langs mekaar in hospitaalbeddens lê ons ewe bang.

In Markus 5: 21-43 word die verhale van twee mense in nood op ’n merkwaardige manier met mekaar vervleg: die een genaamd Jaïrus, en die ander naamloos. Die een was ’n vername raadslid van die sinagoge, en die ander ’n vrou wat onrein was omdat sy permanent gemenstrueer het. Die raadslid was doodsbenoud oor sy siek dogtertjie; die vrou was desperaat oor die siekte.

Jesus slaan ag op Jaïrus se dringende versoek om saam met hom na sy huis toe te gaan waar sy dogtertjie so ernstig siek lê. Onderweg word hulle egter opgehou deur die vrou wat Jesus ongevraagd en ongeoorloof aanraak. Wanneer Jesus wil weet wie Hom aangeraak het, val sy – soos Jaïrus vroeër – vreesbevange op haar knieë en smeek om Jesus se hulp. Jesus sien haar geloof raak en verseker haar dat sy nou vir goed van haar chroniese kwaal genees is.

Maar was die oponthoud fataal? Daar kom mense van Jaïrus se huis af wat sê dat sy dogtertjie oorlede is. Nee, sê Jesus. Moet jou nie ontstel nie. Bly maar net glo! En, by Jaïrus se huis aangekom, gaan Jesus saam met die ouers en drie dissipels in die kamer in en spreek die dogtertjie aan. Tot almal se stomme verbasing staan sy op en begin sy rondloop.

Die twee verhale wil gelowiges aanmoedig om onder alle omstandighede die geloof te behou. Wend jou tot God in jou nood – Hy kan selfs die ondenkbare doen! Dit toon egter ook baie duidelik dat Jesus nie onderskeid tref tussen mense in nood nie. Die nood van die gerespekteerde godsdiensleier raak Hom net so diep as die nood van ’n onrein vrou sonder naam. Hierdeur leer Jesus ons ook hoe ons op die nood van ander moet ag slaan – ongeag wie dit is.

Dr Wouter van Wyk, Sinodaal

af
af
Copy link