Hosea 6: 6 (soos aangehaal deur Jesus in Matteus 9: 13 en Matteus 12: 7)

Om te verstaan waaroor geloof regtig gaan, is soms baie moeiliker as wat ons besef. Van die vroegste tye af is mense ingestel op prestasie en beloning. Ons verstaan die konsep dat jou verdienste bepaal word deur dit wat jy bereid is om in te sit. So werk dit op alle vlakke, oral in die wêreld.

Ook in ons navolging van Christus begryp ons dat ’n boom aan sy vrugte geken word. Die uitkomste wat God behaag, kan nie realiseer sonder die regte insette nie. Dit is egter die radikale omvang van die inset wat van die gelowige verwag word, wat ons telkens onkant vang. Om ’n gedeelte van jou tyd en inkomste aan die Here af te staan, is vir die meeste gelowiges aanvaarbaar. ’n Tiende daarvan was die norm in Jesus se tyd. Baie was in hul toewyding selfs bereid om die offer in tyd en besittings heelwat meer te maak. In Jesus se oë was dit egter by verre nie genoeg nie.

Jesus vind dit nodig om meer as een keer (in Matt 9: 13 en Matt 12: 7) die bekende gedeelte in Hosea 6: 6 aan te haal om te verduidelik dat God meer vra. Om ’n gedeelte van jouself af te staan (te offer), is nie wat God verwag nie. Dit maak nie saak hoe groot die ietsie is wat jy wil afstaan nie, dit bly onvoldoende. Die Here soek jou, jou hart, jou omgee. Gaan leer wat dit beteken as Ek sê dat Ek barmhartigheid soek, en nie jou offers nie. Dit wat jy in jou oorvloed afknyp en na die Meester wil kanaliseer, beïndruk niemand nie. Allermins vir God.

Vir Jesus het dit altyd gegaan oor omgee vir seerkrymense. Soms het Hy hulle innig jammer gekry, ander kere het Hy selfs saam met hulle gehuil. Die liefde van Christus vra in die eerste plek nie dit wat jy wil gee nie, maar jouself.

Ons Vader in die hemel, leer my wat dit beteken as U barmhartigheid verwag en nie offers nie. Amen.

Ds Stephen de Beer, Noordwestelike Pretoria

af
af
Deel met behulp van
Copy link