Prediker 11: 1-6; Romeine 8: 31-39

In die tweede deel van hierdie gedig gebruik die Prediker voorbeelde uit die landbou (vers 4). Op die oog af lyk dit na ’n algemene spreekwoord wat die boer aanraai om eerder te begin werk en nie net die wind en wolke dop te hou nie. Omdat hierdie vers voortbou op die vorige, lê die betekenis baie dieper. Dit reën of dit reën nie, ’n boom val waar hy val, daaraan kan ’n mens net mooi niks doen nie… én jy weet ook nie hoe dit gebeur nie. Dit maak die onsekerheid nog meer en versterk die vraag of dit wat jy aanpak die moeite werd is.

Vers 6 is egter baie meer as net ’n vermaning tot arbeidsaamheid ooreenkomstig die tradisionele wysheidsleer. Die Prediker betoog hier dat die kwaliteit van arbeid nie die resultaat daarvan bepaal nie – dit kan weer eens óf positiewe óf negatiewe uitkomste hê. Hierdie vers bou ook op die gedagte van die vorige en bevestig dat die werk van God, al verstaan ’n mens dit nie, bepalend is. Hier is ’n belangrike moment in die denke van die Prediker. Tot dusver het hy telkens God se betrokkenheid as willekeurig ervaar, en dit het bygedra tot sy oortuiging dat alles tot niks kom – selfs God se betrokkenheid kan goed of sleg vir jou uitval. Die Prediker beleef dit steeds so, maar hy proklameer God se soewereiniteit en erken dat hy God se werk, dalk God self, nie verstaan nie.

Die Prediker se onsekerheid oor die lewe staan in kontras met die gevolgtrekking waartoe Paulus gekom het: Niks kan ons skei nie van die liefde van God wat Hy in Christus in oorvloed aan ons bewys het, deur ons erfgename te maak van ’n nuwe lewe (Rom 8: 18 en verder). Hierdie nuwe lewe is sinvol, want dit is ’n gawe van God. Hierdie liefde van God dra ons wanneer ons gekonfronteer word met die grenssituasies van die lewe, soos tye van siekte en lyding, krisis en voorspoed, dit wil sê, wanneer ons voel dat alles tot niks kom. 

Ds Japie Coetzee, Emeritus     

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link