Johannes 7: 37-39
Die “Groot Dors”, oftewel Kgalagadi, is ’n Setswanawoord. Van hierdie woord is die naam Kalahari afgelei. Die Kalaharikom beslaan meer as 930 000 vierkante kilometer. Die grootste deel van die Kalahari is deur wind gevorm. Hierdie wêreld kan as “dors” beskryf word. In die suidwestelike gedeelte is die potensiële verdamping glo twee keer hoër as die reënval. Die noordoostelike deel kry wel meer reën, maar daar is nie oppervlakwater nie, omdat reënwater onmiddellik in die diep sand wegsak.
Die Bybel leer ons van die krag van wind, as beeld wat ontsag en vrees moet wek. Wysheid moet daarom bekom word. Job 28 verwoord waar ons die wysheid sal vind: Net God weet hoe die pad daarheen loop, net Hy ken die woonplek van die wysheid, want Hy sien die verste eindes van die aarde, Hy aanskou alles onder die hemel. Toe Hy die krag van die wind bepaal het en die waters uitgemeet het, toe Hy vir die reën reëls gemaak het en ’n pad vir die weerlig aangewys het, toe het Hy die wysheid gesien en daarvan vertel, toe het Hy dit vasgestel en deurvors (Job 28: 23-27). Alleen in ons Here leer ons die wysheid om ons wêreld wat windverwaai is, te trotseer.
In die Nuwe Testament leer ons ook om wysheid te bekom vir ons uitgedorde bestaan. Die Messias sê dat dié wat dors het, na Hom toe moet kom. Vir hulle wat glo, geld die belofte: Stromende lewende water sal uit sy binneste vloei (Joh 7: 38). As Christene word ons wat verdor en dors is, toegerus met die Heilige Gees. ’n Kommentaar skryf dat in dié woorde van Jesus, die ewige lewe en Heilige Gees verbind word. Die wêreld verwaai ons en laat ons dikwels soos uitgedroogde soutpanne voel, maar ons Here vul ons met sy Gees. Strome lewende water – die Heilige Gees – sal uit ons binneste vloei.
Gebed
Messias, U seën ons as u kinders. U vul ons met strome lewende water. Beskerm ons waar die aanslae van wind ons stroop van hoop. Laat ons wat dors het, na U toe kom. Amen.
Gesang 510: 1 en 3
Ds Anna-Marie Kloppers, Rustenburg Jac van Belkum
