Johannes 1: 15

Met Kersfees herdenk ons die geboorte van Christus. Tog bely ons saam met Nicea dat ons glo in die Seun gebore uit die Vader voor alle tye. In sowel die Skrifgedeelte as die belydenis is daar sprake van ’n pre-eksistente bestaan: Christus het al bestaan nog voordat Hy gebore is.

Daar was dus nie ’n tyd waarin die Vader alleen was nie. Voor iets was, was die Vader, was die Seun. Daar was nie eers ’n Vader en toe, daarna, ’n Seun nie. Dit verplaas ons na die tydlose ewigheid: Gebore uit die Vader voor alle tye lê buite alle eeue, dit lê buite elke vorm van tyd, bokant elke begrip van voor en na. Vanuit die ewige verhouding van liefde tussen Vader en Seun, spruit God se liefde vir ons. God is van ewigheid af liefde, en Hy deel hierdie liefde met ons. Die troos is dat Christus se liefde vir ons nie vanaf sy geboorte kom nie, maar reeds vanuit die ewigheid.

Op hierdie omskrywing in die belydenis van Nicea volg ’n lied oor die Seun: God uit God, Lig uit Lig, waaragtige God uit waaragtige God. Hierdie herhaling kan nie logies verdedig word nie. Waarom word daar nie volstaan deur een keer te sê wat gesê moet word nie? Die herhaling kan wel teologies verklaar word: Hier word in grootse verwondering gestamel. Aan die einde word opnuut weer begin, want die wese van die saak kan nie gesê word nie.

In die middel van hierdie lied vind ons ’n beeld: Lig uit Lig, wat ons aan God se eerste skeppingswerk herinner. ’n Ligstraal kom voort uit die ligbron, so word die Seun uit die Vader gebore, so kom die Seun na die wêreld. Niemand kan in die son kyk nie, maar almal lewe van hierdie lig van die sonstrale. Ja, Jesus Christus is mensvriendelik, ons kan sy heerlikheid sien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en vergifnis.

Gesang 447: 2

Ds Petri de Kock, Pierneef

af
af
Deel met behulp van
Copy link