Johannes 1: 29-42

In die Evangelie volgens Johannes word die Christus-narratief op so ’n wyse aangebied dat die leser deur die leer en lewe van Jesus in die geloof versterk word en dat diegene wat uit die Jodedom bekeer is (die eerste lesers), bemoedig sal word.

In hierdie teksgedeelte vind ons ’n getuienis (belydenis) van Johannes die Doper aangaande Jesus. Maar ons vind ook die merkwaardigheid van mense wat bereid is om Hom te volg vir dit wat hulle pas van Hom gehoor het; mense wat bereid is om aan ’n koninkryk deel te neem waarvan hulle eintlik nog niks weet nie. In vers 29 wys Johannes Jesus uit vir die mense om hom, waar dit gepaard gaan met ’n kragtige getuienis! Sien ons Jesus raak as die Een wat ons so in die regte verhouding met God stel deur ons sonde te versoen? Hierna het ons te make met eenvoudige mense wat Jesus nog net gesien het en enkele waarhede oor Hom gehoor het, maar Hom nogtans gevolg het.

Die dissipels het hier reeds van Hom begin getuig, al sou hulle eers later pertinent die opdrag ontvang, want hulle het gehoop op ’n Verlosser wat nou hier is! In hierdie verse sien ons hoe verskillende mense Jesus vind. En hierin lê ons uitdaging ook! Andreas was bereid om te getuig van die Messias met wie hy ’n vlugtige ontmoeting gehad het. Petrus het ’n volgeling (die rots van die kerk) geword, omdat hy na die getuienis van sy broer geluister het. Gewone, eenvoudige mense kan die evangelie verkondig, al is dit net deur die invloed wat op ander uitgeoefen word.

Ons moet nadink oor ons reaksie op ons ontmoetings met Christus. Wat is ons antwoord wanneer Jesus vir ons sou vra: Wat soek julle? Verskonings, geleenthede, ander mense? Kom ons gaan uit en wys vir ander dat ons die Messias gekry het. Kom ons getuig, want ons getuienis en invloed is dalk al wat ’n ander persoon nodig het om die Messias te sien.

Ds Quinten SchimperKrugersdorp/Krugersdorp-Wes

af
af
Deel met behulp van
Copy link