Johannes 21: 1-14

Nadat Jesus gesterf het, het die dissipels in vrees en teleurstelling agter geslote deure weggekruip. Daar het Jesus egter lewend aan hulle verskyn. Hul vrees het verdwyn en hulle kon opnuut begin leef in die wete dat die dood oorwin is.

Ons lees egter dat hul nuwe lewe nie veel anders was as die een vóór hulle Jesus ontmoet het nie. Dit was langs hierdie einste see dat Jesus die dissipels aanvanklik aan die visvang gevind en hulle geroep het om Hom te volg. Hulle het hul lewens agtergelaat, waarskynlik teen die raad van hul familie en vriende in, om ’n vreemde rabbi te volg. Hulle het Hom sien wonders doen. Hulle het gesien dat Hy uit die dood opgewek is. Maar dit beteken niks vir hul lewens nie. Sonder sy fisiese teenwoordigheid, verval hulle maar weer in die roetine en stryd van die daaglikse lewe. Roetine wat niks oplewer nie. Stryd wat geen vrug dra nie. Sinloosheid.

Totdat ’n vreemdeling van die wal af roep: Doen daardie alledaagse ding van julle so ’n bietjie anders. Gooi die net aan die regterkant uit. Dan lewer die roetine baie op en die stryd verander in ’n stryd om die oorvloed te hanteer. En dan herken hulle die vreemdeling as die Here. Want die Here het hulle gedurende sy fisiese teenwoordigheid nie geleer om vreemde, nuwe dinge te doen nie, maar om die gewone, alledaagse dinge anders te doen. Met vertroue op God en liefde vir jou naaste. 

Daardie manier van lewe verander werke in wonderwerke. Sinloosheid in betekenis. Roetine in revolusie. Die koninkryke van die aarde in die koninkryk van God. Die opgestane Here is deur die Heilige Gees steeds teenwoordig, en Hy werk fisies waar mense glo dat Hy opgestaan het en sy leringe volg.

Ds Gerrit-Daan van der Merwe, Strand

af
af
Deel met behulp van
Copy link