1 Tessalonisense 4: 13-18

Die dood is ’n ontstellende werklikheid. ’n Werklikheid wat ons met allerlei pogings en aksies probeer bemeester en verstaan. Die dood beteken immers die beëindiging van die lewe en die skeiding van geliefdes. Dit is asof die mag van die dood dikwels soveel meer ’n werklikheid is as die mag van hoop. Dat ons daaroor huil, is egter ook ’n stuk genade.

Midde-in die lewe, kom Christus en berei vir ons die oorgang voor, vanuit hierdie lewe, oor die dood, graf en hartseer heen. Die dood word op hierdie wyse nie ontvlug nie, maar is iets wat elke mens doelbewus moet deurgaan. Daarom hoef die gelowige nie bedruk en ontsteld te voel om van die aardse lewe en liggaam afstand te doen nie (2 Kor 5: 4-5). Die Christen se hoop, op grond van die opstanding van Christus, laat ons nie treur soos ongelowiges nie.

Vers 14 beskryf die gelowiges as ontslapenes wat in Hom (Jesus) geglo het, en vers 16b verkondig: Allereers sal dié wat in Christus gesterwe het, uit die dood opstaan… Die gelowige sterf dus ook gelowig. Sy manier van lewe stem ooreen met sy manier van sterwe. Leef in Christus en sterf in Christus. Daarmee word verkondig dat die gelowige se lewe en lewenseinde in Christus is en omvat is deur die heerskappy, nabyheid en versorging van die Here. Baie vrae oor lewe en dood mag onbeantwoord bly, maar van Christus se nabyheid in die dood is die gelowige absoluut verseker.

So sal God in en deur Jesus Christus die gelowige wat gesterf het na Hom toe neem, want die opstanding van die gelowige is nie net gewaarborg deur die opstanding van Christus nie, maar ook deur God wat hulle by die wederkoms van Christus uit die dood sal uitbring en hulle in sy heerlikheid sal inbring. Daarom sal dié wat as gelowiges lewe, by die wederkoms van die Here diegene wat reeds gesterf het geensins “voor” wees nie. God se eie woord waarborg dit.

Met hierdie waarheid moet ons as gelowiges vertroos word en mekaar ook vertroos. ’n Troos wat vasstaan in die afgehandelde opstanding van Jesus Christus en die uitstaande wederkoms. Dit bring hoop in lewe en in sterwe.

Ds Frikkie van Wyk, Montana-Oos

Share via
Copy link
Powered by Social Snap