1 Tessalonisense 1: 4-10

Die goeie nuus van Christus se dood en opstanding, soos wat dit in die evangelie verkondig word, was nie ’n op-die-nippertjie-ingryping van die Here se kant af nie. Dit was nog altyd die Here se plan vir ons en die wêreld. Dit is net te danke aan die Here dat ons ook die geleentheid gegee word om vir ewig aan Hom te behoort. Hy het sy liefde en genade aan ons gegee. Hy gee dit nie vir ons oor wie ons is of oor wat ons gedoen het nie. As dit die kriteria is waarvolgens die Here sy liefde en genade uitdeel, is ons in die moeilikheid. Hy gee dit vir ons, want dit is wie Hy is. God is liefde, daarom gee Hy ook sy liefde. As Paulus hier sê die Here het dié uitverkies wat Hy liefhet, dan sê hy eintlik die Here red diegene wat reageer op sy uitnodiging van liefde.

Die evangelie word deur woorde aan mense verkondig. As ons hierdie woorde hoor en toelaat dat dit tot ons harte deurdring en toelaat dat hierdie waarheid ons lewens verander, dan sal ons die reddende krag van die evangelie kan beleef. Dit presies is wat met die gelowiges in Tessalonika gebeur het. Hulle het die woorde van Paulus gehoor en toegelaat dat die Gees hulle lei en hul lewens vernuwe.

In sy brief is Paulus vol lof vir hierdie gemeenskap van gelowiges en die manier hoe hulle geleef het ten spyte van die vervolging. So het julle ’n voorbeeld geword… skryf hy in vers 7. Die woord wat hier as voorbeeld vertaal is, word ook gebruik vir die merk wat ’n hamer gelos het as die stensil geslaan word in die maak van ’n muntstuk. Die afdruk wat dit gelos het, lyk soos die oorspronklike. So het hierdie gelowiges in Tessalonika ook ’n afdruk geword van die oorspronklike voorbeeld wat vir hulle gestel is.

Lyk my en jou afdruk soos die oorspronklike voorbeeld? Leef ons met hierdie selfde voorbeeld van liefde? Of lyk die merk wat ons in die wêreld los anders?

Ds Marsulizé van Niekerk, Upington

Share via
Copy link
Powered by Social Snap