Kolossense 1: 1-2

Die seëngroet in die Kolossense-brief is om verskeie redes fassinerend om te bestudeer. Dit is in die oorspronklike Grieks op ’n baie kunstige wyse geformuleer. Die geoefende oor kan dit onmiddellik waarneem. Daar moet in gedagte gehou word dat hierdie ’n hoorteks was wat aan die gemeente voorgelees is. Interne rym is waarneembaar in die aanvang van die groet. Ongelukkig is dit baie moeilik om in Afrikaans weer te gee. Dit sou moontlik soos volg kon klink: Paulus, apostel … deur die wil. Let op die herhaling van die l-klank – dit kom drie keer voor! Dit val baie mooi op die oor.

Daar is egter ook ’n ander eienaardigheid in hierdie seëngroet aan die Kolossense. Dit is die feit dat Christus nie deel is daarvan nie. Slegs God die Vader groet hier. Die baie belangrike eersgebore Seun van die Vader swyg! Hy maak nie deel uit van die geykte formules van die tipiese Pauliniese manier van groet nie. Dit is wat die geleerdes ’n teksfraktuur of ’n teksbreek noem. Die funksie daarvan is om die aandag op iets belangriks te vestig. Die geoefende oor sou dit ook onmiddellik waargeneem het. Inderdaad is hierdie probleem dan ook deur latere teksredigeerders raakgesien. Dit is die rede hoekom hulle en van die Seun Christus bygevoeg het. Hierdie byvoeging was egter nooit deel van die oorspronklike teks nie.

Die vraag is natuurlik: Hoekom is Christus in die seëngroet uitgelaat? Op literêre vlak is die antwoord heel eenvoudig. Luister verder na die teks en vind uit! Die antwoord lê opgesluit in dit wat volg.

Hierdie is ’n uitnodiging aan die hedendaagse leser om saam te stap deur die antieke Leukos-vallei in Turkye waar die gemeente geleë was. In die volgende paar dae sal ons uitvind wat gebeur wanneer die allerbelangrikste en unieke Seun van God tot op die vlak van ’n derderangse godheid uitgerangeer is. Dit het komplikasies tot gevolg gehad wat ons noodsaak om saam na ’n oplossing daarvoor te soek.

Prof Pierre Jordaan, Wonderfontein

af
af
Deel met behulp van
Copy link