Johannes 20: 30-31

In die negende eeu na Christus skryf Paulus Fabius Maximus ’n in-skripsie wat oral in die Romeinse Ryk aangebring is. Hierdie inskripsie vier die geboorte van keiser Augustus as goeie nuus wat oral in die wêreld verkondig moet word. Die rede waarom hierdie as goeie nuus dien, is omdat die Romeinse Ryk geglo het dat die geboorte van Augustus die begin van ’n nuwe eeu was waar daar weer aan die wêreld nuwe lewe gegee is. Verder het hulle ook geglo dat die koninkryk van Rome ’n ewigdurende ryk sal wees en dat hierdie ryk ’n Goue Eeu vir die mensdom sou wees.

Die tema van lewe is van groot belang in die Johannes-evangelie, en net so belangrik vir hom is om aan te toon wie die bron van hierdie lewe is, naamlik Jesus Christus (Joh 1: 4; 6: 35; 11: 25; 14: 6). Dit word ook uitgelig in Johannes 20: 30-31 wat aan ons die doel vir die skryf van die Evangelie gee: sodat dié wat in die Naam van Christus glo, die lewe kan hê.

Wat dit egter so aangrypend maak, is hoe Johannes die term vir lewe (zōē) koppel aan die Griekse term aiōnios, ’n term wat gewoonlik vertaal word met ewigheid, dus die ewige lewe. Maar soos ons kan sien uit die inskripsies van die Romeinse Ryk, kan dit ook as ’n eeu of bedeling vertaal word. In die lig hiervan is dit duidelik dat Johannes se doel nie net was om te verkondig dat die ewige lewe verkry word deur geloof in Jesus Christus nie, maar ook dat in Christus Jesus ’n eeu van lewe aangebreek het.

Die gevolg hiervan? Dié wat in Jesus Christus glo, leef nie meer in Rome se skyn van ’n ewige ryk nie, maar in die ware ewige ryk, die ware eeu en bedeling van die lewe by God.

Here, ons bid laat u ryk kom; leer ons ook hoe ons in hierdie ryk van U kan leef!

Ds Robert van Niekerk, Noordelike Pretoria

af
af
Deel met behulp van
Copy link