Handelinge 12: 1-11

Twee kragte is aan die werk. Die krag van boosheid – Petrus is in die tronk en vrees vir sy lewe. Die krag van gebed – gelowiges bly vashou aan God se goedheid. Die Christene se lewe was moeilik. Één magtige man doen wat vir homself goed en reg is. Om die Jode se guns te wen, val die koning die Christene aan. Die goeie is óók aan die werk. Gelowiges doen God se werk. Ten spyte van gevaar, bring hulle die boodskap van hoop met geloof en moed. God beskerm hulle en seën die werk. Die nuus van die goeie werk kom by Jerusalem uit en die moederkerk bied hulp aan. Die moederkerk in Jerusalem is weer arm en daar is hongersnood. Die dogterkerk help, want Antiogië was ’n ryk stad.

Twee kragte is aan die werk: boosheid en goedheid. So was dit altyd, so is dit steeds. In ons wêreld sien ons wreedheid, selfsug, eiebelang en eiegeregtigheid. Daar is egter ook goedheid, deernis en liefde aan die werk. In onsself werk twee kragte. Ons het almal ’n donker kant, sê Jung, die psigoloog. Die self, eie belang en die eie oorlewing is belangrik bo alles, maar ons het ook die wil om goed te wees, menslik, medemenslik. Aan die groot kragte kan ons nie veel doen nie. Oor die kragte in ons, het ons ’n keuse: óf eiebelang, óf God se werk. Goeie werk dra vrug, maar ’n selfgerigte lewe is vrugteloos. Goeie werk kring uit, is aansteeklik, inspireer, het effek.

Albei kragte is aan die werk. Wie die krag van die goeie kies, hoef nie slagoffer te word van negatiewe reaksies, maniere van dink en doen nie, maar kan aktief help bou aan die groot netwerk van positiewe krag en sonder ophou bly bid. As ons in ons wêreld, soms ook in onsself, dinge sien wat ons moedeloos maak, is dit maar één van die kragte aan die werk. Die ander krag is altyd óók daar.

Kies die goeie werk van hoop en vrede vir almal.

Prof Yolanda Dreyer, Universiteit van Pretoria /     Nederlandssprekende Gemeente

af
af
Deel met behulp van
Copy link