2 Korintiërs 4: 7-11
Jesus se menswording is met besondere welkomgroete ontvang. Daar was nie vir Hom plek nie. Tog, met sy menswording ontvang ons die geloof en versoening met God ons Vader en oortuig die Heilige Gees ons van hierdie waarheid. Ons is voorwaar ’n kleipot wat maklik breek met ’n enorme skat van geloof in ons. Hoe bly ’n kleipot heel in hierdie gebroke wêreld met sy uitdagings?
In alles word ons verdruk en bedruk. Niks werk meer nie, die lewe daarbuite is rof, sê lidmate. Onregverdig, stukkend en korrup. Ons sou ook al die treurmares van ons land kon noem. En tog is ons nie terneergedruk nie, want God is ons Skepper en Onderhouer wat steeds alles almagtig en wys bestuur. In ons leef die wete dat God selfs die slegste vir ons ten beste sal laat meewerk. Nie terneergedruk nie, want ons vertrou ons Vader in die hemel van ganser harte.
Ons het raad nodig! Kyk maar na die uitdagings, beproewinge en aanvegtings van my lewe. Tog is ons nie radeloos nie, want Jesus Christus is ten volle en genoegsaam al die raad wat ek nodig het in my lewe. Nie radeloos nie, want Jesus wat as mens sonde gedra het en as God self dit weggedra het, is my ewige raad.
Ons word vervolg en op die grond neergegooi! Ons elkeen sal kan getuig van gebeure en ervaringe in ons lewens waar dit gevoel het asof ons hard neergegooi is en platgeslaan was. Tog is ons nooit deur God verlaat of deur platslaanmomente vernietig nie. Die Heilige Gees woon in ons en troos ons daagliks met die liefde en genade van God ons Vader, staan ons daagliks by met die raad vir alles wat Christus vir ons kom bewerk het, en werk in ons sodat brose kleipotte staande kan bly.
Bo dit alles weet ons dat al dra ons die sterwe van Jesus in ons liggame, ons ook die lewe en ewige lewe van Jesus sal ontvang. Mag ons in God alleen veerkragtig leef.
Ds Hans Britz, Standerton
