Prediker 2

Dit is amper Kersfees. Hierdie tyd van die jaar het almal ’n behoefte om net ’n bietjie uit te span, ’n bietjie te rus. Tóg is dit alles behalwe ’n rustige tyd. Almal is aan die hardloop. Sommige poog om by die mierneswinkels uit te kom, sommige om nog ’n laaste sperdatum te haal, laaste takies af te handel voordat ons kan ontspan. Elke jaar het ons dieselfde versugting vir ’n bietjie rus, tóg is Kersfees en Nuwejaar so gou verby sonder dat ons gerus het…

Dalk is dit omdat ons jaag na wind, soos Prediker sê?

Prediker bevraagteken die wysheidsreëls van sy tyd: Daarvolgens sal dit met ’n mens goed gaan as jy goed doen, en andersom. Prediker beproef hierdie reëls en besef dat dit nie waar is nie (2: 12-16). Hy ontwikkel ’n weersin in alles waarmee hy hom besig hou (2: 17-23). Prediker mag na ’n aartspessimis lyk, maar hy het besef dat die mens hom/haar vermoei met dinge wat nie regtig saak maak nie. Dat die mens nie weet wat wysheid is nie.

Alle menslike insette het in hulself geen nut nie. Alles wat ons doen, hoe goed dit ook al mag wees, het geen waarde nie. Dit kry slegs waarde as ons dit in verhouding tot God sien.

Eers as ons al ons geswoeg en gesweet, maar ook al ons vreugdes en genietinge, sien as ’n gawe van God, kry dit waarde. In 2: 24-25 sê hy dat alles wat ons kan geniet, nie aan die mens self te danke is nie, dit is ’n gawe uit God se hand. Sodra ons besef dat elke dag ’n geskenk van God is, vind ons rus. Hy gee sin aan die lewe. Sonder Hom is die lewe ’n leë en sinnelose gejaag na wind. Sonder God sal ons altyd probeer bymekaar maak sonder om genoeg te kry. Met ons oë op God gerig, vind ons rus in die wete dat Hy in beheer is. Wysheid is om dít te besef, om in nederige afhanklikheid voor Hom te lewe. Wysheid begin met die dien van die Here (Spr 1: 7).

Gesang 502

Prof Ananda Geyser-Fouché, Universiteit van Pretoria

Share via
Copy link
Powered by Social Snap