Jesaja 64: 1-12 (AFR2020)
Vir sekere soorte krisisse kan ’n mens voorberei. Dink maar aan gesondheid – dit is altyd ’n krisis as iemand se gesondheid bedreig word, hetsy as gevolg van siekte of ’n ongeluk of ’n ramp. Die hele mediese bedryf is daarop afgestem om krisisse in gesondheid te hanteer.
Vir ander soorte krisisse kan ’n mens nie voorberei nie. Die skielike dood van ’n geliefde kan nie afgeweer of beredder word nie. Dit is ’n ontwrigtende verlies wat alleen maar verwerk kan word.
Dieselfde geld vir die verlies van ons sekerhede. Ek wil waag om te sê dat die grootste krisis vir enige mens die verlies van sekerhede is. Met sekerhede bedoel ek daardie diepste oortuigings waarop ’n mens se belewing van ’n sinvolle lewe berus. Hierdie sekerhede is basies van drie soorte:
Dié wat te doen het met oorsprong.
Dié wat te doen het met ’n sinvolle hede gebaseer op sekere waardes.
Dié wat te doen het met ’n sinvolle afsluiting van hierdie aardse bestaan en ’n aanbeweeg na ’n onbekende maar veilige, toekomstige bestaan.
Wat kan ons doen in so ’n krisis van sekerhede, waar jou oortuigings oor God en die werklikheid nie met mekaar strook nie? Waar God, wat jy bely as jou Redder, nie red nie? Waar jy twyfel oor die sinvolheid van die lewe, en jou vertroue op God nie beantwoord word nie? Jy kan doen wat Jesaja doen: Hy bid – nie vir homself nie, maar vir en namens die volk. Die noodmaatreël in ’n geloofskrisis is gebed. As U maar die hemel wou oopskeur en afdaal – soos by Sinai – sal die berge bewe.
Twyfel jy dalk aan jou sekerhede omdat jou geloofsverwagtings en die werklikheid nie met mekaar strook nie? Dink weer oor jou oortuigings en bid om ’n verskyning van God – ’n verskyning wat die wêreld sal regskud, ook jou eie wêreld, sodat jou sekerhede in Hom geanker sal wees. Dan wink die toekoms met hoop.
Dr Piet van Staden, Stellenbosch/Worcester
