Lukas 5: 3

Jesus sien die twee skuite aan die kant van die meer. Die vissers het al uitgeklim om hul nette uit te spoel. Jesus klim toe in een van die skuite. Hy vra nie toestemming om aan boord te gaan nie, Hy doen dit net. Hy vra dat Simon sy skuit ’n entjie die water in moet vat, en Hy gaan sit om die skare wat op die strand staan, te leer. Die toneel maak ’n oorweldigende indruk. Die skuit word omskep in ’n indrukwekkende preekstoel vanwaar Jesus vir die aandagtige volk op die strand preek. Met hierdie skets sê Lukas vir ons dat Jesus se verkondiging van die begin af ’n waterskeidende indruk gemaak het. Daar is nie sprake van ’n klein begin en ’n verdere ontwikkeling van ’n beweging rondom Jesus nie. Met die evangelieverkondiging is alles van die begin af reeds daar.

Die wesenlike dinge moet aan ons geopenbaar word, want ons dink nie self daaraan nie. Dit moet aan ons gesê word. Omdat ons dit nie self dink en sê nie, bestyg Jesus hierdie reuse-preekstoel. Die evangelie en die koms van God se heerskappy hang met mekaar saam. Die evangelie maak immers ’n einde aan die tyd waarin die mens vasgepen word deur sy eie vroom en onvroom moontlikhede, en laat God se tyd vir hom aanbreek. Die evangelie word die blye boodskap genoem, nie oor ’n spesifieke Bybelse inhoud nie, maar omdat dit die dop kraak wat die mens om homself vorm wanneer hy hom opsluit in sy eie goeie en slegte werke, in sy eie goeie en minder goeie moontlikhede.

Dis die verkondiging van genade. Genade beteken in die Nuwe Testament nie dat die veroordeelde nie meer gestraf gaan word nie, maar vryheid vir die gevange mens, vir die mens gevange en beperk in sy eie moontlikhede. Genade is die aanbod aan die mens om as ontvanger, uitsluitlik as ontvanger, te lewe.

Luister met aandag, en Ek breek

vir jul die lewenswoord.

(Gesang 484: 2)

Dr Piet Boshoff, Emeritus

af
af
Deel met behulp van
Copy link