Psalm 42

’n Onbekende man skryf vir sy predikant die volgende e-pos: Jy het my vandag in die kerk gesien. Ek het liedere gesing en gebid, maar ek het net die woorde uitgespreek. Ek het na die Bybelgedeelte en preek geluister, maar dit het gevoel of niks sin maak nie. Daar is nie fout met jou preke nie, maar dit beteken vir my niks. Sy predikant antwoord hom nie en hy besluit om sy predikant te nader. Toe hy die dominee sien, val hy met die deur in die huis: Ek is verstom. Ek het my siel aan jou blootgelê en jy het my nie eens geantwoord nie. Die dominee antwoord: Ek weet. Kom ek wys vir jou my hart. Ek sing liedere, ek lees Bybelgedeeltes en preek preke, ek probeer bid en dit voel sinneloos. En ek is ’n predikant. Ek voel nes jy!

Ons almal draai iewers in ons lewens by ’n ervaring van geestelike droogheid. Ons sukkel om God se omgee in ons lewe raak te sien. Ons beleef ’n Godsverduistering. Die Koragiet, die musiekleier aan wie Psalm 42 toegeskryf word, gebruik die beeld van ’n wildsbok wat smag na waterstrome, maar die stroom is droog. God is stil en ver…

Ons is almal bang vir die stilte van God. Ons is bang dat ons op plekke in ons lewe sal kom waar Hy ver van ons af voel, waar ons nie sy liefde kan sien nie. Dink hieraan: Die stilte van God wat ons soms in ons lewens beleef, is dieselfde stilte wat Jesus in sy verlatenheid aan die kruis beleef het. Maar die stilte wat ons ervaar, is ook die stilte van die leë graf waaruit die Here Jesus opgestaan het. God is nooit afwesig in die stilte nie. Miskien beteken dit selfs dat God luister, diep luister na ons hartseer en ons roep. Hoor in die stilte van God dat ons nooit alleen is nie. God luister nie altyd soos ons sy luister wil hê nie en Hy doen nie altyd soos ons wil nie, maar Hy luister en Hy doen. Hy is dáár.

Dr Sanrie de Beer, Philadelphia

Share via
Copy link
Powered by Social Snap