Psalm 94: 1-23

Geregtigheid is ’n woord wat ons onnadenkend in ons samelewing gebruik. Geregtigheid handel baie keer vir ons oor hoe óns te na gekom word en wat óns regte en voorregte behoort te wees. Ons sal ander mense vertrap, verkleineer en beledig ter wille daarvan dat ons eie sake voorrang moet geniet. Ware geregtigheid gaan egter nie oor ons eie belange en voorkeure nie, maar oor die besef van wat geregtigheid vir God beteken. Ons wêreld en ons mense en ons Kerk lyk soos wat ons lyk omdat ons nie meer ’n heilige respek vir God het nie.

Wanneer het ons respek vir God? Wanneer ons leef soos God van ons vra, wanneer ons bereid is om die regte dinge te doen soos wat God van ons eis. Ons moet weer leer om God se geregtigheid te handhaaf.

Psalm 94 is ’n lied wat daaraan erkenning gee dat ons op God se geregtigheid in ons lewe moet fokus. Hierdie Psalm bestaan uit ’n belydenis dat God die Regter van die aarde is (verse 1-7), ’n appèl wat gerig is op die onverstandiges en dwases wat nie na God wil luister nie (verse 8-11), ’n bemoediging aan dié wat op God se Woord bly vertrou (verse 12-15), en ’n gebed dat God sal help en sal ingryp teen hulle wat sy geregtigheid ondermyn (verse 16-23).

Dit is God se reg om die wêreld aan te spreek en verantwoordelik te hou. Hy is immers die Skepper van alles, van die son en maan en sterre. As Hy vir ons lig in die skepping voorsien het, het Hy die reg om van alle mense te verwag dat hulle die lig wat Hy in terme van sy geskrewe Woord verskaf, sal gehoorsaam.  As gelowiges is dit vir ons ’n voorreg en ’n vreugde om God se geregtigheid in ’n gebroke wêreld te gaan handhaaf en dit voor te leef as die maatstaf vir ons lewens.

Gebed

Gesang 470: 2-3

Ds Martin Meyer, Secunda

af
af
Deel met behulp van
Copy link