Efesiërs 4: 30
Wanneer bedroef ’n mens die Gees? Die skrywer van die Efesiër-brief gee vyf voorbeelde van hoe ons die Heilige Gees nie moet bedroef nie. In vers 25 sê hy gelowiges moet die leuen, valsheid, aflê en onder mekaar die waarheid praat. Waarom? Want ons is lede van dieselfde liggaam. Die Gees het ons aan mekaar verbind, ons is een met mekaar. As ons dus vals is teenoor mekaar, is ons eintlik vals teenoor die Gees. In vers 26 sê Paulus ons moenie kwaad word vir mekaar en dan so bly leef nie. Dit gee die duiwel vatkans. Daar moet ook nie bitterheid en woede wees nie. Wanneer ons mekaar so bedroef, bedroef ons God se Gees ook. In vers 28 sê hy ons moenie steel nie, maar werk sodat ons ook vir die armes kan gee. Die hoofrede hoekom ons moet werk, is sodat ons dié wat nood het, kan help en vir hulle kan sorg. Anders bedroef ons hulle. En waar dit gebeur, bedroef ons die Heilige Gees.
In vers 29 sê Paulus: Ons moenie vuil taal gebruik nie, maar taal wat goed en opbouend is, sodat dit ons hoorders ten goede kan kom. Goeie taal is taal wat ons naaste help, bevoordeel en opbou. Vuil taal is taal wat skade doen, ander skend en hulle bedroef. En daardeur bedroef ons ook die Gees. In vers 31 noem Paulus ’n hele klomp dinge wat onderlinge liefde bevorder. Moet nooit verbitterd of opvlieënd wees of woedend word nie. Moenie vloek of skel nie, moet niks doen wat sleg is nie. Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het. Liefde teenoor mekaar moet die norm wees.
Die Heilige Gees bind ons aan mekaar. Daarom, as ons teenoor mekaar sondig, mekaar bedroef, dan sondig ons teen die bedoeling van God se Gees, en dan bedroef ons die Gees. Fokus daarom op die vrug van die Gees, en beleef elke dag die vrede en die vreugde wat so ’n lewe meebring.
Dr Christo van der Merwe, Emeritus