Johannes 10: 1-10

Hier staan ’n klomp Jode voor Jesus in die skare wat skepties is oor Hom en sy dissipels. En Hy vertel vir hulle dat diewe en rowers nie deur die kraal se hekke gaan om skape te steel nie, maar aan die ander kant ingaan. Ons kan ons net indink dat die Jode dadelik Jesus en die dissipels as rowers en diewe beskou wat probeer om die Jode weg te rokkel van die Joodse godsdiens af. Daarom dat hulle nie verstaan het wat Jesus vir hulle wou sê nie.

Dan vertel Jesus dat Hy die ingang is. Die hek is die plek waar daar besluit word of iemand eg is of nie. Die hek skei die vals herder van die ware herder. Daarom dat die ware herder deur die hek kan gaan, en die rowers nie. Die skape sal deur die hek gaan, wat sal wys dat hulle saam met die regte herder is. Jesus is die enigste pad na ware redding. Die Fariseërs is diegene wat die mense op ’n dwaalspoor lei. Hulle sorg uiteindelik vir die geestelike vernietiging van die mense. Maar Jesus verseker hulle dat sy volgelinge nie vir hulle sal luister nie.

As ons werklik volgelinge van Christus is, dan sal ons mos sy stem ken. Ons leer Jesus Christus se stem ken deur gereeld Bybel te lees, kerk toe te gaan en in verhouding te leef met God en ons naastes. Hoe meer tyd ons deurbring met Christus, hoe beter leer ons sy stem ken. As ons sy stem ken, sal die buite-invloede van die wêreld of valse gelowiges ons nie kan wegrokkel van Hom af nie. Hy is die Weg die Waarheid en die Lewe. Vir wie volg jy?

Ds Waldo Pretorius, Beroepafwagtend

Share via
Copy link
Powered by Social Snap