Psalm 73

So ’n klompie jare gelede is ’n studie gedoen oor wat mense werklik gelukkig maak. Die slotsom van die studie was: Om die alledaagse te waardeer, om jouself nie met ander te vergelyk nie, om geld laag op jou prioriteitslys te plaas, om vriende en familie te koester, om opreg dankbaar te wees en om te gee eerder as te ontvang, behoort geluk te bring. 

Die goddeloses na wie Asaf in Psalm 73 verwys, verteenwoordig eerder die teenpool hiervan. Hulle waardeer nie die gewone dinge nie, hulle ag hulself hoër as ander mense, geld oorheers hul lewens, hulle stoot ander eerder weg as wat hulle vriende maak, hulle waardeer nie hul voorspoed nie, en dit is duidelik dat hulle nie maklik sal gee nie. Dit grief die digter, en hy soek na antwoorde. Is daar dan geen reg en geregtigheid nie? Wen die skurke van die lewe altyd? Trek diegene wie se harte reg klop en wat hulle besig hou met opbouende dinge, dan altyd aan die kortste end? Vir die digter, soos vir ons, voel dit soms so. Sy eenvoudige antwoord hierop, na ’n diepe worsteling met die Here, is dat hy moet aangaan met sy lewe. Hy moet naby aan God leef, want om naby aan God te wees, is vir hom goed. 

Ons geluk lê inderdaad opgesluit in eenvoudige, maklik bekombare dinge. Dit kan nie bepaal word deur ekonomiese welstand of politieke stabiliteit, of deur ons eie definisie van geregtigheid nie. Ons geluk word bepaal deur ons nabyheid aan God. Ons nabye kontak met Hom, lei daartoe dat ons die klein dingetjies in sy skepping sal waardeer. Ons waardeer wie ons is en wat ons besit. Sy kalmerende teenwoordigheid help ons om ons vriendekring uit te bou en ons familie te koester. Dit noop ons om te gee, eerder as om te neem. Intieme, nabye kontak met God het deur Jesus Christus se koms na die aarde maklik geword. Hy oorbrug alle klowe tussen God en mens en verander ons uitkyk op die werklikheid vir altyd.

Ds David Barnard, Magaliesmoot

af
af
Deel met behulp van
Copy link