Genesis 17: 1-8

’n Koning regeer oor ’n land en sy mense. Die Here, ons Koning, is Koning oor elke mens wat Hom in sy hart aanneem. Daar is geen einde aan die koningskap van die Here nie. Daar is geen land, volk, taal of nasie wat uitgesluit is van sy verbond nie.

Die Here kan met enige persoon vanuit enige agtergrond in ’n verhouding tree. Ons lees in Genesis 17 van die verbond wat die Here met Abram sluit. Abram wat in hierdie tyd kinderloos was, kry die belofte dat hy ’n groot nasie sal word. Hy sal die vader van ’n menigte wees, en die Here sal die God en Koning vir hulle wees. Die verbond is nie net met Abram nie, maar deur Jesus Christus met elke persoon wat glo.

Die gebeure waarvan ons in Genesis 17 lees, bevestig dat God ’n uitgestrekte hand na die mens reik. God se hand is vandag steeds uitgestrek na ons. God het geskep en God het gekies om in ’n verhouding met ons as mense te staan, selfs na die sondeval. Die Here gee aan ons die geleentheid om in ’n besondere verhouding met Hom te tree. Al wat nodig is van ons, is geloof in Jesus Christus.

Soos wat Abram se naam verander word na Abraham, word ons name ook verander. Ons kry die naam Kind van God. Ons is deur geloof kinders van God. Ons het die voorreg om deel van die verbond tussen God en Abram te wees. Ons het die voorreg om ons kindskap op hierdie aarde uit te leef en om ook ander uit te nooi om deel te word van God se Koningskinders. Voel u vandag soos ’n Koningskind? Onthou, dit is wat u is.

Gebed

Here, dankie dat U ook my gekies het. Dankie dat U ’n verbond met my sluit en my ook u kind noem. Help my ook om ander uit te nooi om u kinders te wees. Amen.

Ds Michael Müller, Klerksdorp-Wilkoppies

af
af
Deel met behulp van
Copy link