Eksodus 32: 1-14
Ons beleef daagliks stilteoomblikke: stilte in die skepping van God; stilte wanneer ons luister na sy Woord; stilte wanneer ons wag op Hom. Stiltes, hoe ongemaklik dit ook al soms kan wees tussen mense, is dikwels kos vir die mens se siel. Stilte om tot verhaal te kom, te ontspan en te herlaai.
Stilte is nie sinoniem met God se afwesigheid nie, al voel die stiltes tussen God en ons soms onhoudbaar. ’n Stilte van die graf, as’t ware, waar ons met ons eie gedagtes besig is en God oënskynlik stil is. Die volk het tydens die uittog uit Egipte dikwels stilte in die woestyn ervaar.
In Eksodus 24 lees ons van Moses wat die berg Sinai bestyg en daar in ’n wolk verdwyn het. Alhoewel die wolk ’n simbool van God se teenwoordigheid is, ervaar die volk dat Moses weg is. Moses se stilwees skep afstand, nie net tussen hom en die volk nie, maar selfs ook tussen God en die volk. Hierdie volk staan verward aan die voet van die berg, nadat hulle gesien het hoe Moses verdwyn. Hulle wag, maar hy bly weg. Die stilte van die woestyn is intussen besig om hierdie volk in te sluk. Agt hoofstukke later, in Eksodus 32, maak die volk ’n plan om hierdie stilte te verbreek.
Hul bedoeling met hul fees was edel. Hulle wou God eer met die kalfbeeld wat hulle gebou het. Hulle het egter hierdie beeld begin aanbid omdat God se oënskynlike stilte vir hulle te veel was. Die optrede was verkeerd, want hierdie volk het hul posisie voor God verkeerd verstaan. Hulle wou God van die berg afdwing om by hulle te wees. Hulle het nie die stilte van God verstaan nie.
Dit is ’n fout wat die kerk soms steeds maak. Ons probeer dikwels ’n houvas op God kry omdat ons nie sy stilte verstaan nie. God se stilte beteken nie dat Hy afwesig is nie. God hoor ons stiltes, ons moet ook leer om Hom in stiltes te soek, en te vertrou dat Hy te alle tye met ons saamloop.
Ds Quinten Schimper, Krugersdorp/Krugersdorp-Wes
