Galasiërs 5: 13-26
In hierdie gedeelte stel Paulus twee verskillende lewenswyses teenoor mekaar: dit wat hoort by die ou mens, teenoor dit wat pas by iemand wat nuut gemaak is en wat hom deur die Gees laat lei. Hier lê ons geloofsverantwoordelikheid. Dit is hier waar ons geloofsgroei moet gebeur. Op verskeie plekke gebruik Paulus die voorbeeld van ophou met doen wat pas by die ou mens, en om in te oefen wat hoort by die nuwe mens. Prakties gestel: Ons moet die ou vuil klere uittrek en nuwe skoon klere aantrek. Hy gee ook hier ’n lys van dit wat deel is van iemand wat die keuse maak om hom deur sy sondige natuur te laat beheers, teenoor dit wat hoort by iemand wie se lewe deur die Gees beheers word. Hy sê hierdie praktyke staan lynreg teenoor mekaar.
Kyk weer na die lysie van die praktyke wat nie deel van jou lewe moet wees nie! Daarteenoor staan die vrug van die Gees en hierdie vrug is in ons, want God se Gees is in ons. Dit is: liefde, vrede, vreugde, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Hierdie vrug moet meer en meer sigbaar word in jou lewe. Die Bybel rig hierdie appèl op verskillende maniere aan ons: Rig jul denke op die dinge wat daarbo is. Laat God julle verander deur jul denke te vernuwe. Laat julle heeltemal vervul word met die Heilige Gees.
Dit vra van ons dat die ou mens moet sterf en agter ons moet lê. Dit vra van jou prysgawe en oorgawe aan God. Dalk om minder jy (ego) te wees, sodat God se Gees meer sigbaar kan word.
Bid dat God vir jou onderskeidingsvermoë sal gee, sodat jy kan sien waar om te verander. Bestudeer God se Woord om sy wil vir jou lewe te soek. Uit eie krag kan ons ook nie alles verander nie, maar met God se Gees wat ons versterk en dra, kan ons in die geloof meer en meer word wat Hy van ons vra.
Ds Manda le Roux, Weskus
