Markus 1: 1-15

Nadat Johannes in die tronk opgesluit is, het Jesus na Galilea toe gegaan en die evangelie van God verkondig. Hy het gesê: “Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie.” (Mark 1: 14-15)

Daar is verskillende aanduidings vir tyd in die Grieks van die Nuwe Testament, waarvan kronos en kairos die belangrikstes is. Kom ek verduidelik. Die heel eerste soort tyd is wat in Grieks bekendstaan as chronos. Ons kan dit in Afrikaans vertaal met chronologies of kronologies. Ons verstaan hierdie tydlyn gewoonlik baie goed. Ons Westerlinge werk só. Jy het ’n geboortedatum, jy groei op, raak volwasse, kom in jou middeljare, word oud en gaan dood. Dit is chronos-tyd. Tyd werk vir ons chronologies tot die dag van ons dood.

Die tyd het aangebreek word met die Griekse woord kairos beskryf. In die loop van die gewone tyd (chronos) kom daar beslissende tye wanneer die ewige God in jou lewensomstandighede inbreek. Kairos is as’t ware tussenintyd waarbinne iets spesiaals gebeur. In kairos word die reëls van chronos ’n bietjie opgehef. Dit is asof jy in kairos-tye nie bewus is van gewone tyd nie, want dit voel of jou hele lewe daardeur in beslag geneem word. Kairos weerspieël tye van afwagting, opwinding of hoogspanning, en besluitneming.

Kom ons pas dit toe op die Evangelie van Markus. In die gewone gang van die lewe (chronos) het God op die bestemde tyd (kairos) in ons wêreld ingebreek. Dit was ’n beslissende tyd waarin God se koninkryk opgestel is teenoor die magte van hierdie wêreld. Anders as die Romeinse Ryk wat arm mense uitgemergel het en in onuithoudbare situasies van skuld gedompel het, vernietig God nie mense nie. Hy skeld hulle hul skuld vry en hou dit nie teen hulle nie. Hy sorg en vergewe. Mag jy in die gewone tydsverloop van die lewe ervaar hoe God in jou lewensomstandighede inbreek en jou hele lewe in beslag neem. Dit mag ’n kairos-gebeure wees – bekeer jou en glo die evangelie!

Dr André Ungerer, Hervormde Teologiese Kollege

af
af
Deel met behulp van
Copy link