Hebreërs 4: 15; 2 Korintiërs 5: 21

Ons almal wil perfekte hare, velle, punte en lewens hê. Ons kry dit nooit, of hoe? En ons sal nie. Dit is waarom ons Jesus so desperaat nodig het. Hy is dié Een wat ons spore toevee en ons gebreke aanvul en selfs kom skyn deur ons krake. Net sy werk is prentjiemooi – perfek! Reg is reg en verkeerd is verkeerd, ongeag of iets gedoen word of nie gedoen word nie, sê die gesegde. Jesus het hierdie stelling 100% gestand gedoen, want reg was vir Hom reg, selfs al doen niemand anders reg nie. Jesus is volmaak. Die onbekende skrywer van die Hebreërbrief sê: Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie.

Quid es veritas? Wat is die Waarheid? Jesus staan voor Pilatus, aangekla en beskuldig van kriminele oortredings wat Hy nie begaan het nie. En Pilatus wil by die Waarheid self weet: Wat is die Waarheid? Die Romeinse goewerneur doen alles in sy vermoë om Jesus vry te laat. Hoekom? Sy bevinding was: Ek vind geen skuld in hom nie. Hiermee bevestig Pilatus eerste wat Paulus later sou opteken: Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel… (2 Kor 5: 21).

In gelyke rangorde met Jesus se loop op die water en mense wat Hy opwek uit die dood, staan hierdie enkele waarheid en wonder uit soos ’n paal bo water: Jesus het nooit gesondig nie. Jesus was God se model van ’n mens. Altyd eerlik tussen die skynheiliges. Genade-belaaid barmhartig in ’n wêreld vol onreg en wreedheid. Gefokus op die hemel in plaas van ontelbare aardse afleidings. Jesus het nie net elke liewe toets deurgekom nie, Hy het ’n perfekte punt gekry.

Kan jy jou so ’n lewe sonder foute indink? Nie ’n enkele rooi merkie op jou opstelle nie. Ek kan my dit nie indink nie. Dit is waarom God ’n manier gevind het om die sonde te straf en die sondaar te red en te bewaar. Jesus het ons straf namens ons gedra, en God het vir ons krediet gegee met Jesus se volmaaktheid. Dit klink vir my perfek.

Ds Jimmy Manders, Witfontein

af
af
Deel met behulp van
Copy link