1 Korintiërs 3: 16-17
In hierdie teks word ons geleer om onsself op te pas. Tot ’n mate glo ons dat dit slegs beteken dat ons nodig het om ons lywe op te pas. Moenie al hierdie fisiese merke op jou lyf los nie, dit is die tempel van die Here, hoor ek my ouma se stem.
Maar wat ons vergeet, is dat daar vele wyses is waarop dié sogenaamde tempel beskadig kan word. Ja, daar is die fisiese, en hier praat ek nie net van tatoeëermerke of die krapmerke waarop almal neersien nie. Nog fisiese maniere waarop jy jou liggaam beskadig, is deur dit wat jy inneem. Te veel drank wat jou organe kan beskadig. Te veel lekkergoed wat dieselfde doen, sowel as dwelms, en ek is seker dat die lys kan aangaan.
Dan is daar jou geestesgesondheid wat beskadig kan word. Dit waarna jy op televisie kyk, dit waarmee jy jouself besig hou, dit is wat jou vorm en jou karakter uitmaak. As jy jouself besig hou met die verkeerde dinge, is jy ook besig om die tempel te beskadig.
Ons is ook geneig om ander tempels te beskadig. ’n Kwaai of lelike woord wat met slegte intensies geuiter is, kan iemand se gees groot skade aandoen. Ons het nie net die verantwoordelikheid om na onsself te kyk nie, maar ook om te kyk na die ander plekke waar God se Gees woon, dit wil sê, ander mense. Pas jouself op, pas jou broer en suster op. Maak die woonplek van die Gees ’n lieflike woning.
Gebed
O Gees van God wat in my woon, ek is jammer oor elke negatiewe ding wat ek toelaat om deur te glip. Jammer vir die skade wat ek aanrig, nie net aan myself nie, maar ook aan ander waarbinne U ook woon. Herinner my aan u teenwoordigheid sodat ek u woning kan oppas. Amen.
Ds Yvette Scholtz, Magaliesmoot