Romeine 12: 1-8

Dit is Lydenstyd en ons is liturgies op pad na Goeie Vrydag en Paassondag (die kruisiging en opstanding van Jesus Christus). Die 40 dae van lyding het op Aswoensdag begin. Met Jesus as voorbeeld, gebruik ons hierdie tyd van die jaar om geestelike dissiplines rondom lyding en swaarkry in te skerp: selfondersoek, skuldbelydenis, gebed en diens aan ander. Vandag staan ons ’n bietjie stil by diens aan ander.

Ons kan die brief aan die Romeine in drie hoofdele opdeel: sonde, verlossing en dankbaarheid. Die gelese gedeelte val onder die opskrif Dankbaarheid. Dit is daarom nie vreemd nie dat die twee opskrifte in hoofstuk 12 soos volg lees: Die nuwe lewe in Christus en Riglyne vir ’n Christelike lewe. Vers 1 het dit reeds ingelei deur te sê wat jy ook al doen, doen jy op grond van die groot ontferming van God – met ander woorde, uit dankbaarheid. God het ons eerste liefgehad, en daarom het ons lief. God het ons in ons nood versorg, en daarom versorg ons ander in nood. God se ontferming het eerstens te doen met ons sondeverlorenheid, en daarvoor skenk Hy verlossing. Ons dien ander uit dankbaarheid deur onder andere te vergewe.

Ons teksgedeelte noem ’n paar genadegawes: profesie, diens, onderrig, bemoediging, leiding en hulp aan ander. Die woordjie as (wat herhaal word) dui daarop dat God nie vir almal dieselfde of al die gawes gegee het nie. As jy die persoon is wat van God die gawe ontvang het om vir ander te gee, doen dit dan met blymoedigheid.

Ons kan nie met bybedoelings gee nie! Ons kan nie gee in ruil vir iets anders nie: As jy kerk toe kom, sal ons vir jou gee… Ons hoor dikwels: Ek sal nie gee nie, want daardie ou het niks in ruil daarvoor vir my gedoen nie. Of:  Ek sal nie gee nie, want daardie een het niks gedoen om dit te verdien nie. As ons gee, laat dit sonder bybedoelings wees.

Ds Hannes Janse van Rensburg, Zuurfontein

af
af
Deel met behulp van
Copy link