Johannes 14: 27-29

Jesus weet dat sy dood nader kom en Hy probeer die dissipels daarop voorberei. Sy grootste wens vir hulle is vrede, maar nie die tipe vrede wat die wêreld en die mense daarin bied nie. Dis die soort vrede wat binne-in die gelowige teenwoordig is deur die werking van die Heilige Gees – vrede wat nie afhanklik is van eksterne faktore nie.

Dit is moeilik om in ons moderne tye hierdie vrede te ervaar. Dis eerder asof ons vrede vervang met vrees. Ons kyk na dit wat in die nuus gebeur en hoor wat die politici alles kwytraak, en dit trek ons so aan dat innerlike vrede ’n vreemde konsep is.

Vrees is een van die natuurlikste emosies wat deur die mens ervaar kan word. Henri Nouwen, Katolieke priester en teoloog, skryf dat ons vrees ons slagoffers van die wêreld kan maak. Ons word dan wat die wêreld sê ons moet wees, in plaas daarvan om te wees wie God ons gemaak het om te wees.

God het jou op jou naam geroep om self hierdie vrede te kan ervaar, maar die vrees wat jy het, verhoed dat God intiem betrokke kan raak in jou lewe. Daarom wil Jesus vir ons vrede gee. Hierdie vrede is ’n waarborg vir elkeen wat glo. Dit is nie sommer enige soort vrede nie, dit is nie goedkoop vrede nie – dit is letterlik sy vrede. Dit is nie ’n soort vrede wat waarborg dat alles altyd goed sal gaan of dat daar net goeie dinge sal gebeur nie. Die vrede wat God gee, is eerder die soort vrede wat krag gee wanneer ons voel dat ons nie verder kan gaan nie, hoop wanneer ons voel dat daar nie meer hoop is nie, en sekerheid dat God in ons lewens teenwoordig is, selfs al is alles anders rondom ons onseker.

Ds Nastasia Vosloo-Steyn, Donegal/Molopo-kombinasie

af
af
Deel met behulp van
Copy link