1 Korintiërs 15: 1-5

Soms kry ek die indruk dat gelowiges vergeet waaroor ons geloof in Christus Jesus gaan. ’n Mens beleef dit veral in Kersfeestyd wanneer die liggies flikker en ons in ’n vakansiebui is. Dis wanneer ’n mens die idee kry dat ons geloof sentreer rondom die geboorte van Jesus. Hierdie vermoede word versterk wanneer ons van leë kerke oor Paasnaweek hoor. Iemand het geskryf dat die boodskap van die evangelie baie eenvoudig en tog ook ingewikkeld is. Hy skryf dat die evangelie in ses woorde uitgedruk kan word – Jesus het gesterf en weer opgestaan – of dit kan in 16 hoofstukke uiteengesit word (Romeine 1-16).

Ek is van mening dat hierdie kort verduideliking die hart van die evangelie mooi vasvat. As ons eerlik met onsself is, is dit juis die dood en opstanding van Jesus wat ons geloof van enige ander geloof onderskei. Iemand, Jesus, het vir ons gesterf.

Een van my gunstelingrolprente is die 1995-film Braveheart. In die toneel waar William Wallace sterf, het die regisseur hom aan ’n kruis laat vasmaak as simbool van die een wat sterf vir die vryheid van die Skotte. Hy sterf en die Skotte veg vir hul vryheid. Maar hy is dood.

Vir ons het Iemand ook gesterf, maar anders as Wallace en baie ander helde in die geskiedenis, het Hy nie net gesterf nie, maar weer opgestaan. En hier lê die verskil. Hier lê die hart van wat ons glo. Sodat die gemeente in Korinte en ons dit kan onthou, fokus die apostel sy hersiening van die evangelie op die opstanding van Christus. Soos hy die evangelie aan sy lesers bekend maak, laat hy egter nie die ander belangrike kwessies agterweë nie. Die klem bly egter op die feit dat Jesus gesterf en weer opgestaan het.

Kom ons hou dit ook eenvoudig, kom ons gryp ook vas aan hierdie sekerheid dat ons Verlosser nie net vir ons gesterf het nie, maar dat Hy vir ons die dood oorwin het.

Ds Willem Sauer, Waterberg

Share via
Copy link
Powered by Social Snap