1 Samuel 9: 1-7
Vriend van God:
Saul, die seun van Kis, kry opdrag om gereed te maak, ’n slaaf te vat en wegloopdonkies van sy pa te gaan soek. Vir nagenoeg drie dae word berg en streek deursoek. Die hoop en die verwagting om die donkies te vind, vervaag. Kom ons gaan terug… (vers 5).
Tuis wag sy pa. Hy het sy seun gestuur met die hoop en verwagting om sy donkies terug te kry. Sy verwagting is vervul, die donkies is terug, maar sy seun nie. ’n Nuwe afwagting breek aan. Wanneer kom my seun?
Dan gebeur daar iets wat hy nooit verwag het nie. Sy seun kom eers later terug. Maar nou as die gesalfde koning van Israel! Die hoop en verwagting om die donkies te kry, word oorskadu deur die nuwe, onverwagte vervulling.
God leer ons in sy Woord van ’n afwagting wat alle aardse verwagtinge in die skadu stel. Sy eie Seun, Jesus Christus, die Gesalfde, as Koning, Priester en Profeet, wat opgevaar het, sal ook weer in sy volle heerlikheid kom. Wanneer, weet ons nie. Maar ons leef met daardie hoop en verwagting dat God getrou aan sy woord bly en op die regte tyd alles weer nuut sal maak.
Daar kom ’n einde aan alles. Dit moet ons nie wanhopig maak nie. Ons aardse verwagting sal verdwyn. Die donkies wat ons hoop om terug te kry, is maar ’n kleinigheid. Onbeduidend teenoor die gesalfde Koning wat terugkeer. Hy maak reeds vir ons plek gereed in die Vaderhuis. Hy pleit: Vader, Ek wil graag hê dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook by My moet wees.
Ds Hennie Aucamp (25/02/1949 — 04/10/2024)