Matteus 28: 16-20

Jesus se laaste opdrag aan die dissipels is dat hulle van al die nasies dissipels moet gaan maak. Met daardie woorde staan Jesus ook voor my en jou, en Hy stuur ons almal die wêreld in om met die koninkryk van God besig te raak.

Soos wat ek en jy deur die wêreld beweeg, moet ons optrede, woorde en gedagtes die koninkryk van God dieper en wyer en verder verkondig as wat dit gister verkondig was. Ja, as ons na die situasie en die grootte van die wêreld kyk, dan klink dit amper vir my en jou na ’n onmoontlike opdrag. Hoe is ons veronderstel om die liefde van Jesus in so ’n wrede wêreld te gaan uitleef? Hoe moet ons so ’n goddelose wêreld van die genade van God gaan vertel?

Die waarheid is dat hierdie opdrag regtig moeilik maar terselfdertyd ook baie maklik is. Maklik, want Jesus los ons nie alleen met die opdrag nie. Volgens Lukas 10: 3 het Jesus gewaarsku dat Hy ons soos lammers tussen wolwe instuur. Ons voel die skerp tande en naels van die wolwe elke dag in ons verkondiging, maar Jesus is ook hier. In Matteus 28: 20b belowe Hy dat Hy al die dae by ons sal wees, tot die voleinding van die wêreld.

Al die dae is nie net die goeie en voorspoedige dae nie; dit is ook die dae wanneer dit nie so goed gaan nie en ons moedeloos en hulpeloos voel. En tot al die dae tot die voleinding van die wêreld volbring is, moet ons aanhou om die opdrag uit te voer en dissipels van almal te maak, maar terselfdertyd glo en weet dat Jesus al die dae by ons is.

Ds André Steinmann, Piet Potgieter

af
af
Deel met behulp van
Copy link